Dít het Pioneer Rally die beste nog gemaak

Dit was die beste Pioneer Rally nog! Hierdie sinnetjie word deur soveel mense gesê dat ’n mens wonder wat het hierdie keer die verskil gemaak? Die organiseerders van vanjaar se Pioneer Rally is stomgeslaan deur die positiewe terugvoer van al die glanspersoonlikhede, navigators en borge. ’n Mens kan nie anders nie as om Pioneer Rally…

Wenners van Pioneer Rally, Anele Dalasi en premier Helen Zille. Regs is renjaer Sarel van der Merwe, wat de roete uitgewerk het. Foto: Johette Pople

Credit: SYSTEM


Dis 10:30 Saterdag 3 November by die Audi-sentrum Somerset-Wes en rye navigators met heldergroen hempies klim uit die bussies.

Almal is opgewonde en gesels; wonder wanneer hulle die glanspersoonlikhede gaan ontmoet en wie in watter van die spogmotors wat buite staan, gaan ry. Hein Joubert bevoel die verskillende modelle en die doofblinde David Geyer knik ook sy goedkeuring oor die motor waarin hy en Toks van der Linde die ren gaan aanpak.

Minute later stop nog ’n bus – hierdie keer vol glanspersoonlikhede van die lughawe af; almal ten spyte van hul baie vroeg opstaan reeds in opgewonde luim.

Die ander bekendes daag ook stuk-stuk op en die weersiens is lekker. Daar word gespot met die nuwelinge – stories vertel en uitdagings aangegaan.

Dit is ’n besonderse ervaring om eenkant te staan en kyk na die reaksies wanneer navigators en bekendes mekaar ontmoet – en ewe skielik word dit ’n gezoem van interaksie, lag en gesels. Ou bekendes loop mekaar raak, nuwe bekendes word gou ou bekendes en die dag begin op ’n hoë noot.

Cindy Swanepoel en haar navigator, Bonita Blankenberg, het van die eerste “hoezit” af besef hulle is ’n wenkombinasie. Robyn Waters, navigator en matriekleerling, getuig later die aand dat haar drome waar geword het toe sy die akteur Germandt Geldenhuys ontmoet het en saam met hom kon ry.

Baie dankie – ek is skatryk, want ek kon gee. Ek kon opnuut leer van dankbaarheid. Niemand kan ná só ’n dag dieselfde mens wees nie.
Danie Niehaus
Hierdie jaar neem ’n hele klompie sakemanne en -vroue deel. Whitey Basson, Altmann Allers (uitvoerende hoof van Glasfit), Bazil Lauryssen (grootbaas van Feedem), Bibi Goss Ross (Advanced Health), Koert Pretorius (Mediclinic) en die rugbybekende Wahl Bartmann, wat nou die uitvoerende hoof van die Fidelity-groep is, is maar net ’n paar van hulle.

Worcester se uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, is vanjaar self agter die stuur met Vernon Barnard, ’n The Voice-finalis, as haar navigator.

Die motors begin brul en navigators is slaggereed vir die roete. Onder luide gejuig word die wegspringvlaggie gewaai – stiptelik 12:30.

In Worcester stap ’n paar manne van Audi benoud op en af. Sarel van der Merwe het immers hierdie jaar ’n roete deur byna elke moontlike bergpas beplan. Volgens Keenan Bergins van Golden Valley Casino en sy navigator, Nicky Labuschagne, was daar nie minder nie as 96 draaie.

Kort-kort kom ’n motor deur Golden Valley Casino se hekke, en almal se glimlag word breër.

Motors ter waarde van R31 miljoen kom veilig in Worcester aan en almal ontspan met ’n lafenis in die Golden Valley Casino Lodge, waar die heerlikste versnaperings op al die deelnemers wag.

Worcesteriete kry by die glansgeleentheid by ATKV Goudini Spa, waar die galadinee gehou word, die kans om in hul spoggerige uitrustings saam met al die deelnemers van die dag te kuier. Dit is ’n windstil aand en die heerlike pienk vonkelwyn is die perfekte voorganger vir ’n aand vol opwinding.

Toks van der Linde en Margit Meyer Rodenbëck is weereens aan die stuur van die aand se verrigtinge, en laat almal in die eerste oomblikke besef dat hierdie aand baie spesiaal is. Die rooi tapyt is uitgerol en die deelnemers word deur hul tafelborge ontvang. Danni Johns en Zoxo Mbongwana, leerders van Pionierskool, verstom die gehoor met hul braille-vaardighede terwyl hulle die daaglikse lewe as leerder in Pionierskool deel en ook die borge bedank.

Ná die hoofmaaltyd laat Sarel van der Merwe die opwinding verder opbou met die aankondiging van die laaste 29 posisies. Die toptien word tot ná die gereelde laataand-veiling teruggehou.

Wenners van Pioneer Rally, Anele Dalasi en premier Helen Zille. Regs is renjaer Sarel van der Merwe, wat de roete uitgewerk het. Foto: Johette Pople

Jak de Priester. Foto: Johette Pople

Prudence Mini (Golden Valley Casino), Antoinette Steyn (uitvoerende burgemeester van Worcester) en Shimmy Isaacs (komediant). Foto: Johette Pople

Robyn Waters (Pionierskool-leerder) en die akteur Germandt Geldenhuys. Foto: Johette Pople
Eie aan Wicus van der Merwe laat hy nie op hom wag nie en tussen hom en Margit begin die rande in die veiling inrol. Verskeie optredes van bekendes word opgeveil en ons luister na Leah, Jak de Priester en Pietman Geldenhuys wat hul talente ten toon stel. Danie Niehaus en Germandt Geldenhuys laat ons luister na ’n hoendervleisweergawe van Nessum Dorma. Gian Groen en Pieter-Jans Durr, sy navigator wat hy pas die oggend ontmoet het, lewer ’n uitstekende weergawe van Vierseisoenekind met die hulp van Jurg Human op begeleiding.

’n Hoogtepunt van die aand is die optrede van Robyn Waters, ’n matriekleerling aan die Pionierskool, en Matthys Roets met Hallelujah! Ná ’n onmiddellike encore lewer elkeen nog ’n item en almal besef – hierdie is puik talent!

En dan die groot oomblik.

In die derde posisie is Keenan Bergins en Nicky Labuschagne; tweede is Gian Groen en Pieter-Jans Dürr – albei eerste deelnemers aan die Pioneer Rally.

En die wenner is ?. . . . die Wes-Kaapse premier Helen Zille en haar navigator, Anele Dalasi. Onder luide toejuiging word die trofee, geskenk deur David & Lorna Reade, aan die wenners oorhandig.

Maar wie is die eintlike wenners?

Die eintlike wenners is die leerders van Pionierskool, wat baat vind by die geld wat ingesamel is. Vanjaar is ’n rekordbedrag van meer as R500 000 ingesamel.

Van deelnemers getuig, soos Lynné de Jager: “Vandag is ek dankbaar, meer dankbaar as gister – dat ek die mooi van die lewe kan sien en nie net ervaar nie.”

Navigators maak reeds opgewonde planne vir aanstaande jaar se byeenkoms.

’n Mens wonder nie meer wat hierdie jaar die verskil gemaak het nie. Die dag was gevul met “like-minded people” – in die woorde van Keenan Bergins by die gala dinee. Dít is die verskil tussen hierdie dag en elke ander dag.

Elke betrokkene by hierdie dag – bekendes, navigators en borge – se doel was om te gee, en dit is wat gebeur het.

Die Pionierskool en die Pioneer Rally-komitee bedank ieder en elk wat deel was om hierdie dag een van die grotes te maak!

You need to be Logged In to leave a comment.