Al was verlede jaar uiters moeilik vir haar het die Hoërskool Hexvallei se topmatriekleerder net deurgedruk.
Aniechia van Willingh was goed op dreef en tevrede met hoe voorbereid sy was vir haar finale eksamen verlede jaar. Maar net voor die eksamen kon begin, het haar ma siek geraak.
“Ek was voorberei maar toe raak my ma siek. En ’n mens kan nie anders as om heeltyd aan daardie persoon te dink nie. Maar ek het hard probeer om net gefokus te bly en deur te druk,” verduidelik die 18-jarige.
Sy noem ook dat dit die aanpassing maar moeilik was aan die begin van die nasionale inperking, maar dat sy later gewoond geraak het daaraan.
Van Willingh bieg dat sy die week voor die uitslae bekend gemaak is maar deur ’n reeks emosies was.
“Ek het maar min geëet en min geslaap. Ek was bekommerd, want ’n mens luister maar hoe die ander praat en oor hoe hulle weet dat hulle nie sal slaag nie. Dan begin dink ’n mens aan hoe jy ’n spesifieke vak geskryf en dan begin jy net bekommerd te raak. En toe ek my uitslae Dinsdag kry, was ek baie bly en verlig.”
Nadat sy haar uitslae gekry het, het sy nie geweet dat sy eintlik haar skool se topmatriekleerder is nie.
“Dit het eers later ingesink toe my vriendin daaroor praat en begin huil van blydskap. Toe besef ek eers, ek is die topmatriekleerder.”
Haar planne vir hierdie jaar is om onderwys te studeer.
“Dis waar my hart nou al lank lê. Ek weet ook dis ’n goeie loopbaankeuse omdat daar altyd onderwysers benodig word.”