MONTAGU. – Akkurate stelskopwerk en oorheersing in die vasteskrums het die grondslag vir die Montagu-klub se puik sege oor sy buurman, Villagers Montagu, oftewel Sesduim, gelê.
Ook het dit in die tuisspan se guns getel dat die besoekers se stelskoppers hul skopstewels by die huis vergeet het.
Hoewel Sesduim ses drieë teenoor Montagu se vyf gedruk het, was Ryan George, die skerpskutter-losskakel van die tuisspan, se uitmuntende skopwerk pale toe grootliks die deurslaggewende faktor. George het altesaam 24 punte – 19 met die skoen en ‘n drie – aangeteken. Hy het al sy span se drieë verdoel en ook drie strafdoele oorgeklits.
Hierteenoor het die besoekers se Lee van Oordt (een langafstand-strafdoel-poging) en Liam Pekeur vier doelskoppe verbrou.
Hoe dit ook al sy – George het sy span vroeg in Sanlam se Boland-derbydag- wedstryd met ‘n strafdoel op die voorvoet geplaas.
Sesduim het kort hierna sy neus voor gekry ná ‘n vlymskerp breekslag deur Immanuel Pietersen (heelagter), wat deur Ashley Monk (buitesenter) met ‘n drie afgerond is.
Nie lank hierna nie het Montagu met ‘n drie deur Alzano Khana (haker) ná ‘n dryfmaalbeweging van ‘n lynstaan af teruggeslaan. George se doelskop was tussen die pale deur en die telling het aangeskuif na 10-5 vir die tuisspan.
‘n Skrumoortreding deur die besoekers het George in staat gestel om sy span se voorsprong met sy tweede suksesvolle strafdoel verder te vergroot.
En nadat Emil Moses ná volgehoue druk oorgegaan het vir Montagu se tweede drie en George weer die teiken getref het, was die tuisspan goed in beheer van wedstryd, met die telling wat tot 20-5 gegroei het.
Sesduim het met ‘n drie deur Justin van der Berg (slot) teruggekap om die rustydtelling op ‘n skaflike 20-10 te staan te bring.
Nadat die een span water gedrink en die ander aan lemoenskyfies gesmul het, het Montagu vol vuur teruggekeer en in ‘n blitzkrieg twee drieë gedruk.
Eers is Devandre Adendorff (regter- vleuel) in die linkerhoek oor en daarna het Ronaldo Koker (heelagter) ná ‘n skitterlopie afgerond. George het beide drieë verdoel en eensklaps was die telling 34-10 en Montagu stewig in die saal.
Maar Sesduim het hierna met mening teruggeveg.
Telfir Lekay (plaasvervanger) het die terugvegpoging ingelui toe hy met brute krag oor die doellyn gebars het, gevolg deur Tyrique Kleyn (plaasvervanger-skrumskakel) wat die tuisspan se verdediging aan flarde geruk en agter die doelpale afgerond het.
Daarna het Dillin Williams (plaasvervanger) ook agter Montagu se doellyn gaan kuier.
Pekeur het twee van dié drieë verdoel en Sesduim was skielik weer terug in die wedstryd met die telling wat 34-29 geword het.
George het hierna sy span se voorsprong met ‘n derde suksesvolle strafdoel gerek.
Sesduim het egter geweier om die handdoek in te gooi en Lekay het oorgegaan vir sy tweede drie.
Maar hierna het George, wat heel gepas as die Sanlam Confident Player of the Match aangewys is, egter yskoue water oor die besoekers se merkwaardige terugvegpoging gegooi toe hy self gaan druk en daarmee die laaste spyker in Sesduim se doodskìs gemoker het.
Montagu het dié opwindende kragmeting uiteindelik met 44-34 in sy guns beklink. – Norman Evertson


