Die organisasie Dink Oorspronklik Edel Nuuskierig (Doen), ’n organisasie sonder winsbejag wat in Mei vanjaar gestig is, is toegewyd om ’n samelewing te skep met mense wat meer empatie vir ander het.
Doen beoog om dit te bereik deur die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede.
Die organisasie het onlangs fase een van sy projek met die leerders aan Somerset Hoërskool uitgevoer. Slypskole en kursusse is by die skool aangebied om leerders oor die basiese beginsels van kritiese denke te leer.
Die slypskole is van Maandae tot Donderdae in intervensieperiodes vir gr. 8- tot 11-leerders by die skool aangebied.
Een van die stigters van Doen wat ’n geskiedenis in die onderwys het, Tersia du Plessis, se kritiese denkers presteer akademies puik.
“ ’n Kritiese denker is ’n omvattende mens. Rasionele mense is nie koud, klinies en onemosioneel nie. Rasionele mense is juis meer empaties, want hulle weet dat daar altyd ’n ander perspektief is. Rasionele mense maak beter keuses, want hulle dink aan die gevolge. Rasionele denke is egter nie iets wat natuurlik tot mense kom nie,” sê Du Plessis.
Sy sê by Doen-slypskole word die implementering van kritiese denkvaardighede op ’n prettige manier onderrig aan die hand van die metode van Sokratiese vraagstelling deur gebruik te maak van praktiese voorbeelde uit die alledaagse lewe.
“Ons doen dit met voorbeelde soos ‘Wat gebeur in my brein wanneer ek alkohol inneem?’ en ‘Hoe leer ek om myself in iemand anders se skoene te sit?’,” sê sy.
Die Doen-organisasie hoop om ’n merkwaardige voetspoor te laat.
Du Plessis sê sy moedig mense aan om by die organisasie betrokke te raak.
Mense kan help met mentorskap deur hul vaardighede te deel of om ’n lid te word en jaarliks ’n eenmalige bedrag te betaal. . Belangstellendes kan Du Plessis by 083 226 0601 bel.