Renier de Villiers, afrigter van HTS Drostdy se eerste rugbyspan, het 19 Mei sy 50ste wedstryd as afrigter van die eerste span met ’n luisterryke oorwinning oor die Hoërskool Outeniqua gevier.
Wat hierdie wedstryd nog meer opwindend gemaak het, was dat dit teen sy alma mater, die Kwaggas, was.
Die wen is in die spanningsvolle laaste minute beklink toe Shaun Baxter, die losskakel, deurgebreek het en ná ’n lopie van 60 m oorgeduik het vir ’n oortuigende drie, wat hy toe self verdoel het.
Die res van die dag se rugbyuitslae het ook getuig van die uitsonderlike standaard van HTS Drostdy se rugby hierdie seisoen.
De Villiers, self ook ’n Cravenweekspeler en eerstespanspeler van Maties, word wyd gerespekteer vir sy besonderse aanslag wat die opbou en uitbou van rugby onder jongmense wat aan skolerugby deelneem, betref.
Hy is aan die einde van die wedstryd deur die leerders van HTS Drostdy staande toegejuig.