HTS Drostdy neem hul trofee in ontvangs. Agter, van links, is Candice Sinclair (promosiebeampte: WP Bloedoortappingsdiens), Marike Gevers (opvoedkundige beampte), Esmé Pettit, Antionette Saaiman, Suzanne Rossouw, HTS Drostdy se bloedskenkkoördineerder, en Arthur Underhay (HTS Drostdy se skoolhoof). Voor is Franco Smith, Henro Jansen en Anina Rossouw.Foto:


HTS Drostdy het vanjaar as wenner uit die stryd getree in die Wes-Kaapse Bloedoortappingsdiens se jaarlikse Battle of the Blood Donors-kompetisie.

Verskillende skole het mekaar in dié kompetisie die stryd aangesê om te kyk wie die meeste bloed van 10 April tot 31 Mei kan skenk.

Die fokus van hierdie veldtog is om nuwe bloedskenkers te werf asook om so veel as moontlik eenhede bloed bymekaar te maak. Die wenners word bepaal deur die hoeveelheid potensiële skenkers te deel deur die hoeveelheid leerders wat wel skenk. Dit maak dit vir kleiner skole moontlik om teen groot skole mee te ding.

Drostdy het ’n trofee asook ’n geldskenking wat vir opvoedkundige doeleindes aangewend kan word, losgebloei.

Volgens Suzanne Rossouw, ’n onderwyseres en koördineerder van die bloedskenk-aksie by Drostdy, is dit nooit enige moeite om Drostdy se leerders aan te moedig om bloed te skenk nie.

“Bloedskenk is deel van ons trotse Donkie-tradisie. Dit is ’n manier vir die leerders om iets van hulself te gee sonder om iets terug te verwag.”

Sy word bygestaan deur vyf entoesiastiese leerders wat op bloedskenkdae help dat sake vlot verloop. Hulle is Anina Rossouw, Esmé Petit, Franco Smith, Antoinette Saayman en Henro Jansen.

Die naaswenners in die kompetisie was Rylands Hoërskool en derde was Westridge Hoërskool.

You need to be Logged In to leave a comment.