‘Doppies’ word ambassadeurtjie

’n Leerder van De Doorns is die afgelope Dinsdag aangewys as die Breedevallei (BVM)-munisipaliteit se ambassadeur van herwinning.


’n Leerder van De Doorns is die afgelope Dinsdag aangewys as die Breedevallei (BVM)-munisipaliteit se ambassadeur van herwinning.

Griffin Pieterse (12), ’n graad 6-leerder aan Hoërskool Hexvallei, se hande het behoorlik gebewe toe hy sy sertifikaat en trofee van Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester, ontvang het.

Hy staan by sy skool bekend as “Doppies” omdat hy van 2015 af as deel van die skool se herwinningsprojek papiere, bokse, doppies en enige rommel optel en dit deur die skool laat herwin.

“Vandag is ek soos ’n trotse mamma van ’n seuntjie wat, hoewel nie my bloedfamilie nie, soos my familie van my dorp is. Griffin het my hart gesteel toe ek in Die Burger van 13 Augustus lees hoe hy ander skole aanmoedig om ook by herwinningsprojekte betrokke te raak. Ek het hom my ambassadeurtjie van herwinning gemaak, want ek is trots op hom,” het Steyn gesê.

Toe hy uitgevra word oor sy bynaam glimlag hy skaam en antwoord dat hy hierdie jaar al meer as 90 kg plastiekkoeldrankdoppies vir sy skool se projek ingesamel het.

“Vir my gaan dit daaroor om De Doorns skoon te sien. Dis mos lekker om in ’n skoon omgewing te woon,” sê Pieterse.

Steyn sê sy wil van hom ’n voorbeeld maak om ander leerders aan te moedig om ook hul skoolterreine en omgewing skoon te hou.

“Dis baie belangrik om jou dorp skoon te hou en ek haal my hoed vir Griffin af,” sê die burgemeester.

“Ek en van my raadslede gaan hom uitneem vir ete om behoorlik vir dié jongman dankie te sê.”

You need to be Logged In to leave a comment.