: Steyn Olivier gaan eersdaags vir Maties uitdraf, maar sal ook megotroniese ingenieurswese daar studeer.


Steyn Olivier was nie net een van Worcester Gimnasium se ster-rugbyspelers nie, maar boonop een van die skool se slimkoppe ook.

Verlede jaar was ’n besondere skooljaar vir Olivier. Hy het die Boland o. 19 Cravenweekspan gehaal en ’n gemiddelde van 88%, met A-gemiddeldes in ses van sy sewe akademiese vakke, behaal.

Volgens Olivier was die eindeksamen baie moeiliker as wat hy verwag het dit sou wees. “Ek het, ter voorbereiding van die eksamen, ou vraestelle uitgewerk, maar steeds het dit vir my gevoel ek was nie goed genoeg voorbereid nie,” vertel hy.

Hy vertel: “Ek het van die begin van die jaar af begin leer vir my eindeksamen deur elke dag deur my werk te gaan en op te let in die klas. Ek dink dit het dit vir my makliker gemaak om vir die eksamen te leer. Ek het ook meer ingesit vir die rekordeksamen in September, want ek het vir myself gesê ek sal eerder dan hard leer as in die eindeksamen. Maar ek dink die ondersteuning van my ma en onderwysers het my die meeste aangemoedig om hard te leer.”

Olivier glo daaraan dat ’n mens ’n goeie balans moet handhaaf en sê hy het sy akademie en sport met mekaar afgewissel.

Hy meen dat oefening baie belangrik is vir jou brein en dat jy gereeld ’n blaaskans moet geniet. “Ek het gereeld geoefen, nie net om fiks te bly nie, maar ook gesond te bly. Dan het ek soos enige normale tiener met my vriende uitgehang en hard gewerk wanneer ek moes,” vertel hy.

Olivier gaan sy studies voortsit in megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy ’n beurs ontvang het om vir Maties rugby te speel.

You need to be Logged In to leave a comment.