Leerders van die De la Bat-skool oefen hier vir die Shakespeare-skolefees.

Die groot verhoog wink! Sestien gehoorgestremde leerders van die De la Bat-skool vir Dowes in Worcester sal Saterdag (24 Mei) Shakespeare se The Taming of the Shrew by die District Six Homecomeing Centre as deel van die Suid-Afrikaanse Shakespeare-skolefees opvoer.

Dit is die agtste jaar dat die skool se toneelgroep aan die fees deelneem. “Die kinders is baie opgewonde hieroor en het hard geoefen,” het Karien Jordaan, ‘n onderwyseres, gesê. Die skool is in 2018 genooi om aan die fees deel te neem. “Toe die eerste opvoering ‘n sukses was, het ons elke jaar teruggegaan. Die kinders geniet dit baie – dit is ‘n fantastiese geleentheid om op só ‘n verhoog te kan optree.”

Die onderwysers het met verskillende maniere geëksperimenteer om die teks, in ou Engels wat reeds moelik is om te verstaan, vir die gehoorgestremde leerlinge te leer.

“Ons het aan die begin die hele toneel in gebaretaal opgeneem. Vanjaar het ons dit weer in eenvoudiger Engels oorgeskryf en die kinders leer dit deur dit te lees.”

Die skool het The Taming of the Shrew ook in 2020 opgevoer. “Ons pak dit elke keer anders aan. Die vorige keer was die kleredrag alles uit die jare twintig en vanjaar hou ons dit tradisioneel met klere uit daardie tydperk.

“Dit voel soos ‘n heel ander toneel-stuk,” het Jordaan gesê. Van die leerders wat kan praat of van die personeellede doen die praatwerk tydens die opvoering, sodat horendes die storielyn kan volg.

Jordaan verwys na die toneelspel as hul “passie-projek” omdat so baie van die leerders en personeel so entoesiasties raak daaroor.

“Ons probeer die kinders leer oor harde werk en om jou span nie in die steek te laat nie. As jy nie opdaag nie, kan die toneelstuk nie voortgaan nie.”

Die gebarenaam vir Hamlet is beskrywend – vingers wat trane oor ‘n wang rol, beduie en ‘n hand wat ‘n kopbeen vashou.

Wanneer na Shakespeare verwys word, beduie albei hande na ‘n groot kraag – tipies van daardie tyd se kleredrag.

Leerlinge van die De la Bat-skool vir Dowes neem vanjaar vir die agtste jaar deel aan die Shakespeare-skolefees in die Kaap waar hulle Taming of the Shrew in gebaretaal gaan opvoer. Foto: verskaf
Leerlinge van die De la Bat-skool vir Dowes neem vanjaar die agtste jaar aan die Shakespeare-skolefees in die Kaap deel waar hulle The Taming of the Shrew in gebaretaal opvoer.

You need to be Logged In to leave a comment.