Die dramagroep van Victoriapark Primêre Skool is baie opgewonde.
Dié groep gaan sy toneelstuk in Mei by die Baxter-teater saam met ander skole opvoer.
Neville Wentzel, ’n onderwyser by die skool en ook die afrigter van die groep, sê toe die geleentheid hom voordoen om weer by die Baxter-teater op te tree, het hy dit met albei hande aangegryp.
“Ons het verlede jaar Twelfth Night en Romeo and Juliet van Shakespeare by Artscape opgevoer. Iemand anders het die groep afgerig en toe sy nie meer kon nie, het ek oorgeneem.
“Ek het besluit om vanjaar verder te gaan en weer Romeo and Juliet op te voer. Ons tree 8 Mei op,” sê Wentzel.
Hy voeg by die rede waarom hulle Romeo and Juliet opvoer, is omdat dit ’n storie vir jongmense is.
“Aangesien ons reeds verlede jaar die toneelstuk opgevoer het, is van die leerders vertroud met die stuk. Dit is ook iets anders as die gewone dramastuk. Daar is ’n uitdaging wat met die toneelstuk gepaardgaan. Die Shakespeariaanse Engels is baie anders as dié van vandag. Ek het gedink die kinders gaan daarmee sukkel, maar hulle het glad nie.
“Baie van die leerders is Engelssprekend. Ek wou hulle eers sê dat ons die Engels kan verander sodat dit makliker is, maar toe ek sien hulle het die Engels goed onder die knie, het ek dit daar gelaat,” vertel Wentzel.
Altesaam 23 leerders is deel van dié dramagroep.
“Hulle almal is baie entoesiasties. Hulle sien daarna uit om in Mei voor ’n groot gehoor op te tree. Dit is vir my lekker om te sien hoe hulle elke week gretig is om te kom oefen. Ek kan sien hulle geniet dit,” sê hy.