Drie mans het in die hof in Worcester verskyn in verband met die skietdood van ‘n 17-jarige in 2023.

WORCESTER – Die moordsaak teen ‘n verkeersbeampte en twee mans van Avian Park het vanoggend (21 Julie) in die Worcester-hof voorgekom nadat hulle betrek is by die skietdood van ‘n 17-jarige seun twee jaar gelede.

Die staat voer aan dat die verkeersbeampte, Tanki John Makoala (43) asook Aubrey (35) en Dulah Luthando (27) Mngomezulu verantwoordelik is vir die dood van die tiener, Judu Gabriels nadat hy op 11 Maart 2023 naby Vinkstraat in Avian Park geskiet is met ‘n vuurwapen wat aan Makoala uitgereik is in sy kapasiteit as verkeersbeampte. Wat presies tot die noodlottige insident gelei het, is nog vaag op hierdie stadium.

Makoala, wat ten tyde van die voorval ‘n verkeersbeampte in Worcester was, is die afgelope week in die Vrystaat aangekeer, met die ander twee wat reeds sedert 27 Mei in aanhouding is, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê. Die Mngomezulu’s is na bewering lede van die JCY-bende.

Die saak is uitgestel tot Donderdag 24 Julie sodat Makoala se borgaansoek aangehoor kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.