’n Vrou van 73 is ernstig beseer toe sy by die munisipale vullisdromme in Dirkie Uysstraat, Meiringspark, aangeval en beroof is.
Volgens JP Myburg, woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), het die vullishouers volgens inwoners in onlangse tye heeltemal onveilig begin word, met onwettige besetters wat naby of selfs in dié houers “woon”.
Die aanvanklike doel van dié houers was om te keer dat mense vullis onwettig in die veld stort. Die onlangse uitleg en verkoop van die 18 erwe in Dirkie Uysstraat gaan egter ’n natuurlike buffer skep wat afvalstorting in die veld sal voorkom. Ná etlike versoeke van die wykskomiteelid van Meiringspark, die Meiringspark-buurtwag en inwoners het die munisipaliteit se afdeling vir vaste afval besluit om die vullishouers te verwyder om verdere misdaad te verhoed,” sê hy.
“Inwoners word dus versoek om voortaan hul addisionele vullis by die stortingsterrein te gaan weggooi. Jammer vir dié ongerief. Veiligheid bly ons nommereenprioriteit,” voeg Myburg by.