Die oorblywende 41 000 kubieke meter se modderwater wat oorbly by Floriskraaldam. Die water is nie geskik vir mens of dier nie. Foto: Rick Marais


Die boere in die Koup-distrik trek swaar. “Die droogte is besig om te wen, die ergste een nóg,” sê hulle.

In die hartjie van dié distrik lê Laingsburg, ’n dorp wat bekend is vir sy skape en vrugte, maar ook vir die groot vloed van 1981.

In Khoi beteken die woord goub (waar die Koup sy naam vandaan kry) pensvet. Niemand weet waarom dit die Koup genoem word nie, dalk omdat daar so baie skape in die streek is.

Die boere in die streek is met die droogte dié wat die swaarste trek, want die laaste goeie reënval was in 2014. Daarna het hierdie stuk aarde net droër geraak.
Hierdie droogte is ’n snaakse ding, hy kou jou bietjie vir bietjie op, dag na dag. Hy vat eers aan jou emosies dan vat hy aan jou sak, dan vat hy aan jou plaas en dan het dit ’n uitwerking op jou hele familie
André Smit, boer

Vandag is die Floriskraaldam, geleë in die Buffelsrivier, amper heeltemal droog.

Sommiges sê hulle glo die droogte is die Here wat die mense straf vir iets wat hulle verkeerd gedoen het. Ander dink weer dit is ’n toets vir die boere en dorpenaars om te sien of hul omgee vir hul medemens.

“Hierdie droogte is ’n snaakse ding, hy kou jou bietjie vir bietjie op, dag na dag. Hy vat eers aan jou emosies dan vat hy aan jou sak, dan vat hy aan jou plaas en dan het dit ’n uitwerking op jou hele familie,” sê André Smit, ’n besproeiingsboer van die plaas Kareebome net buite die dorp.

Kotie Hattingh (94), ’n derde generasie van boere wat op 92 moes ophou boer weens sy swak gesondheid, sê: “In 1969 was daar ’n baie groot droogte. My pa het toe nog geboer. Ons het daardie droogte net-net oorleef, maar hierdie een is baie erger. Hierdie is werklik die ergste droogte wat Laingsburg nog getref het. Ons boere trek baie swaar, ek weet nie meer hoeveel van hulle nog oor ’n jaar gaan boer as dit so aanhou nie.”

Op Smit se plaas vertel die wingerde en vrugteboorde van appelkoos- en perskebome hul eie verhaal.

Visse wat nie meer water het om in te lewe nie. Foto: Rick Marais

“Hierdie is dood, daardie is dood. Dis wingerde en bome waar ’n mens jare se liefde en omgee ingeploeg het wat net tot niet is. Ons het nie genoeg water om alles op die plaas te versorg nie. Daar is net drie boorgate en daardie water moet ons klaar so mooi deel en gebruik,” verduidelik hy.

Sy vrou, Doret, verduidelik die water wat uit die boorgate kom, bestaan hoofsaaklik uit slik: “Dit het ’n baie hoë soutinhoud en ons wingerde, perskes en appelkose sukkel om te groei. Maar ons het geen ander keuse nie,” voeg sy by.

Die Floriskraaldam, die hoof­waterbron, bevat nou ongeveer 41 000 kubieke meter modderwater.

“Hierdie syfer verteenwoordig maar 0,04% van die normale inhoud van die dam. Van al hierdie water is niks drinkbaar of kan vir besproeiing gebruik word nie. Dit is pikswart modderwater waarin visse daagliks vrek. Die dam gee water tot halfpad tussen Ladismith en Riversdal, sowat 150 km daarvan af. Daar is tans 2 208 hektaar grond wat van die dam moet water kry,” sê Daniel Crafford, voorsitter van die Buffelsrivier-besproeiingsraad.

Om verligting te bring, verskaf boorgate om en in die dorp, asook op die plaas Zoutkloof, water aan die inwoners van Laingsburg.

Geen water uit die Floriskraaldam kan deur die inwoners gebruik word nie.

Floriskraaldam is dor en leeg, al wat die boere en inwoners nou kan doen is bid.

“Die dorp van Laingsburg na Roggeveld is ’n winter­reënval­streek, maar na Beaufort-Wes is dit ’n somerreënvalstreek. So al wat ons doen, is wag op reën. Die wolke vorm, maar vinnig kom hier ’n wind op en waai al die wolke weg,” sê Hattingh.

Die ghwarriebosse, wat maklik 100 jaar oud word en baie weerbaar is, vrek selfs in die droogte. Doringbome is ook besig om een vir een te val.

“Ek is bekommerd oor ons boere, ek is bekommerd oor die diere wat voer moet kry en ek is bekommerd oor die plase. Wat dood is, is dood. Sekere bosse soos die Scholtzbos word vaalgeel in die droogte. Hulle is tans spierwit. Dis die eerste keer sedert 1941 dat hulle so sleg lyk,” voeg hy by.

Volgens Ilze Nel van die plaas Sandpoort, het organisasies soos Boere in Nood begin voer skenk, maar boere moet betaal vir die vervoer daarvan. “Baie van die boere sukkel egter só dat hul nie geld het hiervoor nie.

“Daar is barmhartige boere in die omgewing wat geld bydra en die boere se vervoerkostes dek. Dis merkwaardig hoe die boere na mekaar uitreik,” sê Nel.

Volgens haar het Sandpoort sedert verlede jaar slegs 40,5  mm reën gekry terwyl die gemiddeld jaarliks oor die 100 mm moet wees.

“Die eerste jaar se droogte kon ons deurkom, die tweede jaar het ons swaar getrek, maar in die derde jaar, soos nou, gaan dit bitter sleg. Al kom daar reën, gaan ons plante eers daarby baatvind as dit vir langer as 14 dae goed val,” sê Hattingh.

Die Buffelsrivier het jare laas water in gehad.

Onder die boere en gemeenskap beskaam die hoop egter nie. Hulle almal gaan 28 Januarie by die Floriskraaldam byeenkom om vir reën te bid.

“Daar is ’n spesiale lint van Kroonstad op pad wat deur gebed geseën is. Ons gaan dan op daardie biddag die lint in die dam sit en dan kan ons net bid. Ons kan net bid vir reën,” sluit Smit af. 

’n Appelkoosboom trek swaar in die droogte op André en Doret Smit se plaas Kareebome. Foto: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article