HTS Drostdy het onlangs ’n uitsonderlike loopbaanuitstalling aangebied.
Innoverende besighede het hul unieke fokusareas kom wys en tersiêre instansies het leerders van graad 10 af aan studierigtings met die oog op nuwe loopbaankeuses bekendgestel.
Laerskoolleerders vanoor die hele Boland kon deelneem aan interaktiewe “innovasiestasies”, wat kodering en robotika ingesluit het. Dié leereenheid word van volgende jaar af by Drostdy aangebied. Die program het op ’n hoogtepunt afgesluit met die provinsiale vaardigheidskompetisie, waarin hoërskoolleerders vanoor die hele Wes-Kaap hul vermoëns tot op die uiterste beproef het in die volgende areas: konstruksie, houtbewerking, sweiswerk, kragstelsels en ontwerp.
Die uitstallings was drie dae oop vir besigtiging.