HTS Drostdy is baie trots dat hy die skool is wat die vierde meeste bloed in 2017 in die Wes-Kaap geskenk het.
Dié aankondiging is einde verlede jaar deur die Wes-Kaapse Bloedoortappingsdiens gemaak.
Drostdy het altesaam 375 eenhede bloed geskenk. Spine Road High in Mitchells Plain beklee die eerste plek met 438 eenhede bloed.
Die leerders van Drostdy skenk al die afgelope 21 jaar by die skool bloed. Die heel eerste bloedskenkgeleentheid is 21 Februarie 1996 gehou.
Suzanne Rossouw, die onderwyser wat in beheer is van dié projek, sê die skool beoog om aan die einde van die jaar die eerste plek te beklee.
“Ons hou van eerste plekke en gaan voortbou op die sukses van verlede jaar. Dit is ’n maklike manier om ons verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap na te kom. Verantwoordelikheid en liefde is twee van die skool se waardes en om lewe te red, pas daarby,” het Rossouw gesê.
Rossouw sê om bloed te skenk is een van HTS Drostdy se tradisies en is baie belangrik.
“Dit help baie dat die bloeddiens in een van skool se sale diens lewer. Leerders hoef nie die skoolterrein te verlaat om bloed te skenk nie. Dit is baie gerieflik en vinnig.”
Rossouw voeg by dat elke leerder aangemoedig word om bloed te skenk.
“Ons moedig beslis die leerders van 16 jaar en ouer aan om bloed te skenk. As iemand bang is vir naalde, hou hul vriende bietjie hul hand vas om die vrees hok te slaan. Baie onderwysers skenk ook bloed en dit moedig leerders aan om in hul voetspore te volg,” het sy gesê.
Die leerders skenk vier keer ’n jaar bloed. “Die leerders weet al dat elke eerste of tweede Maandag van ’n kwartaal die bloedskenk-Maandag is.”