Die dag toe haar ore op vyfjarige ouderdom stil geword het, het ds. Betty Wanza glad nie voorsien dat sy eendag op ‘n preekstoel sou staan nie.
Vandag leef dié inspirerende leraar haar passie uit deur die gemeentelede van die Dowe Familiekerk in Worcester te bedien.
“Dit is dikwels makliker vir ‘n dowe om met iemand anders wat ook doof is, te kommunikeer. Ons verstaan hoe om ‘n boodskap sinvol aan mekaar oor te dra,” vertel ds. Wanza.
Sy is op ‘n jong ouderdom na die Nuwe Hoop-sentrum vir gehoorgestremdes in Worcester en ná skool het sy vir 24 jaar by die einste sentrum as huismoeder gewerk. Sy het ‘n passie vir jong dowe kinders en om hulle te leer hoe om te kommunikeer.
Ds. Wanza vertel dat dit altyd haar droom was om ‘n predikant te word, maar die geleentheid het hom nooit voorgedoen nie. Die Deaf Christian Ministry Africa (DCMA) het ‘n kursus bekend gestel en ds. Wanza – toe reeds in haar veertigs – het die geleentheid om verder te leer, aangegryp.
“Ek het wonderlike mense op my pad gehad wat my aangemoedig en onder- steun het, soos ds. Jan Oberholzer. As dit nie vir dié groep mense was nie, sou ek dalk te bang gewees het om te waag.”
Sy is die eerste vroueleraar vir dowes in die land.
Om die boodskap sinvol aan haar gemeente oor te dra, is ‘n uitdaging wat sy met beide hande aangryp.
“Ons probeer die boodskap so aanbied dat dit direk van kop na hart toe gaan en die kern daarvan goed verstaan word. Om dowes te bedien, is harde werk. Ons kan nie net woorde gee nie, maar moet na prente soek wat help om die boodskap oor te dra. Wanneer ‘n mens doof is, is dit ook moelik om vir ‘n lang tyd aaneen lippe- of gebaretaal te volg. Wanneer ons preek, dra ons die boodskap oor sodat gemeentelede dit sien en kan lees.”
Die kerk is toegerus met toerusting soos skerms en behoorlike beligting sodat dowes maklik kan volg. Daar is weekliks sowat 150 mense wat die dienste bywoon.
“Die dowe gemeenskap in Worcester is groot, maar vervoer kerk toe op Sondae is ‘n probleem,” sê sy.
Hul dienste word ook op YouTube uitgesaai.
Sy is getroud met Johannes, wat ook doof is. Hul seun, Delaino, kan wel hoor.
Sy het inwoners in Worcester aangemoedig om dowes te betrek.
“Wanneer ‘n mens nie kan hoor nie, is dit moeilik om by ‘n groep mense in te skakel, omdat ‘n mens nie kan hoor waaroor die gesprek gaan nie. Ek vra mense om hulle in te sluit.”
Volgens ds. Wanza is daar ‘n groot tekort aan tolke by instellings soos hospitale en dokters, banke en die polisie. “Daar is te min tolke en hulle is dikwels nie beskikbaar nie.”
Gebaretaal is nie universeel nie en verskil van plek tot plek. Soms is dit soos ‘n ander taal (soos die Amerikaners se gebaretaal) en soms is dit soos ‘n ander dialek van ‘n taal wat ‘n mens ken, met ander handbewegings wat gebruik word.
Sy het planne om die gemeente uit te brei om ‘n groter deel van die dowe gemeenskap te bedien.
“Ek is trots op die dowes wat nie terugstaan nie en dinge aanpak wat vir hulle moeilik is. Hulle het baie om die gemeenskap te bied,” sê sy.
“Ek is nie kwaad omdat ek doof is nie; dit is die werk van die Here. Dit het my in staat gestel om sy boodskap beter aan die dowe gemeenskap te kan oordra. Ek is dankbaar dat ek nog my stem het.”





