Carla Mostert, ’n gr. 9-leerder aan die HTS Drostdy, het met behulp van mede-skoliere en lede van die gemeenskap rolstoele vir twee mense bekom.
Carla, ’n junior bestuurslid van die Wes-Kaapse Landsdiensorganisasie, het die groot taak aangepak om oor die afgelope jaar vragte vol plastiekdoppies bymekaar te maak.
Sy het hierdie projek deur sosiale media gedryf en ook deur Radio Weskus ’n pleidooi gerig.
Die Kaapse organisasie Bread Tags for Wheels onderskryf die projek waarin ’n mens ’n rolstoel in ruil vir 450 kg plastiekdoppies kan kry.
Carla is veral dankbaar oor een spesifieke skenker wat gehelp het om net kort van 900 kg se doppies in te samel.
Een van die rolstoele sal aan Innovation for the Blind in Worcester oorhandig word.
“Die tweede rolstoel gaan via Weskus Radio in die gemeenskap daar ’n spesiale plek vind,” sê Carla.
Ná hierdie maande lange proses en harde werk, is sy ook dankbaar dat sy die geleentheid gekry het om iets vir iemand anders te beteken.
“Ek waardeer die ondersteuning en aanmoediging van my ouers wat my deurentyd bygestaan en gehelp het,” sê Carla.


