Mitchell Smith, ’n duiweboer van Laingsburg, het besluit al het hy eers onlangs weer self begin deelneem aan die sportsoort van wedvlugduiwe, hy dit moét deel met die jonger geslag.

Dit is hoe die dorp se jong duiweklub ontstaan het.

“Ons het aan die begin van die jaar met net nege jongelinge begin en ons staan nou op twintig,” sê Smith.

Volgens hom steun die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif-organisasie (Sanpo) sy siening dat meer jongmense moet deelneem aan die sportsoort.

“Die sport is so goed omdat dit ons jongmense leer van omgee, liefde en verantwoordelikheid.”

Die klub benodig tans geld vir medisyne, kos vir die duiwe, ringe vir die voëls en ook van die ‘outydse’ handklokke waarmee hulle tyd hou.

“Die meeste boere gebruik elektroniese klokke. As hulle dalk ou klokke beskikbaar het vir ons, sal ons dit baie waardeer,” sê Smith.

Die klub neem nog net deel op klubvlak, maar sodra die seisoen verby is, gaan Smith die uitslae vir Sanpo stuur, wat dan gaan bepaal of die klub kan aansluit by die unie en deelneem aan ander kompetisies. Die klublede, wie se ouderdomme wissel van 6 tot 16, word van die begin af geleer dat dit gaan oor liefde vir die duiwe.

“As jy die duif gaan afskeep, gaan dit nie wen nie. Die duiwe kom terug hok toe omdat jy vir hul liefde gee. Die duiwe moet ook reg afgerig word en baie aandag kry.”

Vir Smith is dit elke keer lekker om by die hokke te staan en te sien hoe die duiwe terug vlieg. Dit is soos wanneer die WP oorduik vir ’n wendrie, sê hy.

Mense wat iets kan borg, of selfs net raad gee, kan Smith kontak by 062 887 6210.

You need to be Logged In to leave a comment.