Dan Marone met sy twee duiwe wat op dieselfde dag twee gedenkwedvlugte gewen het.

Duifwedvlugte word reeds langer as ‘n honderd jaar as mededingende sportkode in Worcester en omgewing beoefen.

Nie net is die staaltjies oor duiweboere legio nie, maar Worcester het oor die jare meer as net sy kwota uitstekende duiweboere opgelewer. Hier dink ‘n mens veral aan die February’s, die Anthony-broers, die Pietersens, die Cupido’s, die Jeftha’s, die Grove’s, die De Wets en die Van Schalkwyks, om nie van boere soos Soldaat, Le Grange, Marone, Kleintjes, Marais, Africa, De Kock en Gempies – om maar enkeles te noem – te vergeet nie.

Baie van hierdie baanbrekers is nie meer met ons nie, maar in die era van moderne tegnologie is dit verblydend om te weet ‘n nuwe geslag duiweboere neem dié sportsoort na nuwe hoogtes.

Een so ‘n bekende duiweboer van “gister”, Abby Marone, se seun Dan volg in die voetspore van sy bekende pa.

Alhoewel Dan so te sê langs ‘n duiwehok grootgeword het, het hy eers in 2020 by sy huidige klub, Winelands Racing Pigeon Union (WRPU), aangesluit en ernstig begin deelneem. Nadat Dan sy eerste amptelike wedvlug in dieselfde jaar gewen het, was daar geen keer aan dié energieke duifboer nie en het hy net van krag tot krag gegaan.

Hy is die afgelope seisoen as sy klub se kortpad-kampioen gekroon en het ook vier eerste plekke losgevlieg. Daarby het hy ook drie eerste plekke by die nuwe WRPU-unie losgevlieg.

Kortpad-wedvlugte is gewoonlik van Laingsburg, Leeu Gamka en Beaufort-Wes tot by Worcester. Volgens Dan was vanjaar se hoogtepunt toe hy die gedenkwedvlugte van wyle Danny le Grange van Kroonstad en sommer op dieselfde dag ook die Gary Haas-gedenkvlug van Bloemfontein na Worcester met twee van sy duiwe gewen het. Die Le Grange-wedvlug word reeds die afgelope vier jaar gehou, maar duiweboere het die eerste keer om die Gary Haas-trofee meegeding. Daarby was die geldpryse in beide wedvlugte gewis nie te versmaai nie.

Dit was ook gepas dat hulde op hierdie wyse aan twee baanbrekers vir hul ontsaglike bydrae tot die uitbreiding van hierdie sportkode in die streek gebring is.

Duifwedvlugte is gewis ‘n sportkode wat opnuut dopgehou gaan word – juis omdat hernude belangstelling deesdae opvlam om hierdie gewilde sportsoort weer tot sy eertydse glorie te laat herleef. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.