Rudolph Johannes neem eersdaags die leisels oor as hoof van Edenskool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.
Johannes is al 25 jaar in die onderwys. Hy was voorheen werksaam by Agulhas-vaardigheidskool in Napier, waar hy ook vir ’n termyn as skoolhoof en adjunkhoof gedien het. Hy het in 1994 by Edenskool aangesluit en was van 2010 tot 2011 ’n departementshoof.
Johannes is ’n boorling van Robertson, maar woon van 1995 af in Worcester.
Hy het verskeie kwalifikasies agter sy naam. In 1993 het hy sy BA-graad in menslike bewegingskunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf en in 1994 het hy sy hoëronderwysdiploma aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi. Jare later, in 2014, het hy ’n sertifikaat in onderwys met bestuur en leierskap aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.
Johannes beskryf homself as ’n deursigtige en doelgerigte mens.
“My leierstyl is kreatief. Ek neem inisiatief en tree beslis op ten opsigte van prioriteite en ek moedig goeie spanwerk aan om strategiese doelwitte te bereik,” sê Johannes.
Die nuwe hoof is vasbeslote om mylpale by die skool te bereik en verduidelik wat hy as skoolhoof beoog: “My doelwit is om te verseker dat elke leerder by die skool goeie onderrig sal ontvang en toegerus word om aanvaarbare landsburgers te wees sodat hulle sal weet wat hul regte in die gemeenskap en samelewing is.”
In sy vrye tyd bestee hy sy tyd in ander leiersrolle.
Hy is ’n lid van die uitvoerende bestuursraad van die Wes-Kaap se Provinsiale Sportkonfederasie. Hy is ook die voorsitter van Gestremde Sport in die Wes-Kaap asook voorsitter van die Overberg-sportraad.
Hy is ook die tesourier van die Wes-Kaap Sportvereniging vir mense met verstandelike gestremdhede.
Johannes sê hy is slaggereed vir die uitdaging as hoof van Edenskool.