’n Siggestremde oudleerder van die Pionierskool in Worcester het onlangs die heel eerste braille gedrukte matrieksertifikaat in haar hand vasgehou.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het in samewerking met Pionierskool en Pionierdrukkery dié spesiale matrieksertifikaat laat druk.
Die ontvanger van die sertifikaat, Lise-Mari van Wyk, het verlede jaar by Pionierskool gematrikuleer. Sy was in Januarie vanjaar een van die toppresteerders in die land wat by die 2018- nasionale seniorsertifikaat-geleentheid in Leeuwenhof vereer is. Sy is as die derde beste presteerder van leerders met gestremdhede in die land aangewys.
Haar pa het by die geleentheid aan een van die WKOD-verteenwoordigers genoem dat dit baie vir Lise-Mari sou beteken indien die sertifikaat in braille gedruk kon word.
Dié versoek het nie op dowe ore geval nie. Volgens ’n verteenwoordiger van Pionierskool, Colleen Marais, het die WKOD hulle later genader en gevra hoe hulle te werk kan gaan om die sertifikaat in braille te laat druk.
Pionierdrukkers het ingespring en aangebied om die sertifikaat gratis te druk.
Lise-Mari sê toe sy onlangs haar braille-matrieksertifikaat ontvang het, was sy in ekstase. “Dit was ’n baie goeie gevoel, want gewoonlik word sertifikate vir die kandidate in siende skrif gedruk. Hulle het my as blinde in ag geneem. Die waardering is soveel groter,” sê sy.
Sy gaan dié jaar ’n bietjie afneem, maar sy het groot planne vir volgende jaar. “Ek wil graag drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Ek het klaar aansoek gedoen. Ek is mal oor teater,” vertel sy.
“In my vrye tyd skryf ek baie. Ek hou ook van musiek en ek sing graag.”