Die Bolandse berge is bedek met ‘n dun lagie van die eerste wintersneeu wat Sondagoggend (8 Junie) wyd – van die Paarl tot Worcester – gesien kon word.

Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse weerdiens Saterdagaand ‘n geel vlak-3 waarskuwing uitgereik het vir swaar sneeuneerslae.

Die Hexriviervallei-berge naby De Doorns. Foto: Ronel van Jaarsveld

Die Matroosberg-reservaat het op sy Facebookblad gesê die sneeu is tans net op die hoogste pieke sigbaar en dat geen sneeu op hierdie stadium vir motoriste bereikbaar is nie. Die bietjie sneeu wat Sondagoggend op laagliggende gebiede geval het is deur die reën weggespoel, en nog reën word verwag.

Die pad tussen Worcester en De Doorns. Foto: Ronel van Jaarsveld

Die Kaapstad-weerkantoor het by navraag gesê sowat 44,8mm reën het tussen Vrydag 6 Junie van 08:00 tot Saterdagaand 7 Junie tot 21:00 in die Paarl geval terwyl Jonkershoek 43,2mm; Franschhoek 60,8mm; Worcester 11,4mm; Hermanus 21,4mm en Kaap Agulhas 16,6mm vir dieselfde tydperk gemeet het.

Grabouw het op sy beurt 53,4mm aangeteken waarvan 37,4mm Saterdag tussen 08:00 en 21:00 gemeet is.

In die Weskus is 17mm by die Cape Columbine-satelietkantoor in Paternoster en 18,2mm in Langebaanweg aangeteken.

Die weeragentskap het Sondag nog sneeu, en verspreide buie en donderbuie voorspel wat na verwagting tot Maandag sal voortduur.

Die kouefront wat Maandag en Dinsdag vir die Oos-Kaap voorspel is, het ook reeds vroeg Sondag sy opwagting gemaak met die eerste sneeu wat by die Tiffindell Ski Resort naby die dorp, Rhodes, aangemeld is, volgens die Snow Report SA Facebook-blad. ‘n Geel vlak-6 waarskuwing is van krag vir die Joe Gqabi-distrikmunisipaliteit, asook die plaaslike munisipaliteite Enoch Mgijima (Molteno) en Matatiele. Swaar sneeuneerslae word verwag wat ‘n gevaar vir lewens kan inhou, met moontlike padsluitings en gemeenskappe wat afgesny kan word, het die weeragentskap vroeër gewaarsku.

You need to be Logged In to leave a comment.