Eindfluitjie blaas die laaste keer

Vir die legendariese sportheld en gemeenskaps­mens oom Ben Saunders het die klok vir sy finale ronde op die fietsbaan gelui toe hy aan nierversaking oorlede is.


Vir die legendariese sportheld en gemeenskaps­mens oom Ben Saunders het die klok vir sy finale ronde op die fietsbaan gelui – of, as jy wil, die rugby-eindfluitjie vir hierdie nederige sportman op 87-jarige ouderdom geblaas.

Sy visie as 14-jarige seun het tot die ontstaan van die beroemde Young Hamiltons-rugbyklub gelei.

Oom Ben en ’n paar maats het op ’n wintersmiddag in Junie 1948, ’n dag ná sy 14de verjaarsdag, besluit om die klub te stig. Min kon hulle raai hoeveel duisende lewens deur hul inisiatief geraak sou word.

Rugby in SA het ’n seder verloor met sy sterfte en hy laat as stigterslid ’n klub van 73 jaar agter, met ’n voetspoor van groot glorie en roem op velde reg oor SA.

Oom Ben het ook as fietsryer roem verwerf as ’n naelry-kampioen en is in die nasionale span opgeneem wat in 1964 aan die Nasionale Spele in Johannesburg deelgeneem het. Hy was ’n lid van Worcester Protea en het vertel hoe hy dikwels ter voorbereiding vir sy deelname “onwettig” in die aand op Bolandpark moes oefen omdat bruinmense nie ’n baan gehad het nie. Hulle het die fietse oor die sink-omheining getel en in die donkerte geoefen. Worcester het tradisioneel vooraanstaande bruin fietsryers gehad, maar self kon hulle nooit aan die renne op Bolandpark deelneem nie en moes maar net met verlangende oë van die klein paviljoen af kyk hoe die “bevoorregte jaers” – vir wie hulle enige dag goeie kompetisie kon bied – baljaar.

Baanfietsry in Worcester het in die nuwe bedeling tot ’n einde gekom deurdat die Esselenpark-baan in ’n graswalsitplek vir rugbytoeskouers omgeskep is en ’n sintetiese atletiekbaan op Bolandpark aangebring is.

In 2018 tydens Hammies se 70ste verjaarsdag is hul laaste lewende stigterslid deur die Wes-Kaapse regering as legendariese Wes-Kaap-sportster vereer – ’n eer wat hy oor en oor verdien het, maar tog in alle beskeidenheid ontvang het.

Sy plek – saam met sy boesemvriend Abe Haupt – langs die veld van sy geliefde Hammies was nooit leeg nie en ironies, weens Covid-19, was sy laaste geleentheid saam met die Hammies-skare in November met die begrafnisdiens van die speler Shane Barber.

Grace en Ben Saunders
By die toekenning van sy eerbewys as legendariese Wes-Kaapse sportster was, van links, Anroux Marais (Wes-Kaapse minister van sport) en Grace en Ben Saunders.

Volgens sy dogter Safeera Johaar is oom Ben verlede Vrydag in die hospitaal opgeneem met ’n pynlike vergrote prostaat en is hy aan nierversaking oorlede.

Hy was ’n ywerige lidmaat van die Calvyns Protestante kerk en het sy kerk siek of gesond gereeld besoek. Hy was ook by die Padvinders en die Julie Naudé-crèche van Kinder- en Gesinsorg betrokke.

Oom Ben word Saterdag ter ruste gelê en laat sy vrou, Grace, vier kinders en agt kleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.