Met die eerste oogopslag lyk Charn Visagie, gr. 10-leerder by Hoërskool Goudini, soos enige ander skoolmeisie – tot jy vasstel sy het ’n kongenitale hartdefek.
Haar ma, Martha, sê haar dogter presteer uitmuntend al het sy die aangebore hartkwaal.
“Charn is een van die toppresteerders by die skool, lid van die verteenwoordigende raad van leerders (VRL) en lééf vir netbal.”
Volgens Charn is sy soms uitasem met netbal, maar dit het haar nog nooit gekeer om die sport te beoefen wat sy liefhet nie.
“Ek rus soms ’n bietjie en dan is ek weer terug vir die tweede helfte. Dis nie altyd maklik nie, maar ek druk deur.
“Volgens die dokters het my hart geskuif en die regterkant van my hart is baie groot, maar ek leef elke dag voluit. Kom wat wil; ek staan op en leef, want ’n mens het net een lewe,” voeg sy by.
Volgens die skoolhoof, Bert Hanekom, is sy ’n regte vasbyter.
“Sy werk altyd hard en ons is trots op alles wat sy bereik. Sy is ook onlangs gekies om te dien in die junior stadsraad, wat boekdele spreek van haar leierskapvermoëns,” verduidelik Hanekom.
“Sy is ’n fenomenale mens. Sy het altyd ’n glimlag op haar gesig en gaan nog groot dinge bereik in die lewe.
“Niks staan in haar pad nie en sy is ’n ware inspirasie vir ons almal,” sluit Aubrey Wehr, een van haar mentors, af.
Charn sal dalk in Maart nog ’n hartoperasie moet ondergaan.
Haar ouers vra dat die gemeenskap saam met hulle sal bid vir hul dogter.