Die twee van hulle het doer op die muurtjie in die bloedige Kaapse son gesit; ons in die restaurant se opelug-sitplek van waar ’n mens alles kan bespied wat in die hawe gebeur.
Maar intussen kom ons agter die twee hou ons stip dop.
Mense kom en gaan, kinders plas in die seewater, ’n geel-en-rooi vissersboot kom ingevaar, maar niks gaan vandag hul aandag van ons aftrek nie.
Elke gesoute slaptjip wat mond toe gaan, elke stukkie gebakte vis, elke keer as ons dit met nog ’n bietjie suurlemoensap bedruip, dit alles hou hulle stip dop. Ook toe die selfoon lui en ek antwoord.
En toe kry ek hond se gedagtes met dié dat ’n mens eintlik deesdae nêrens meer veilig is nie. Sê nou net hulle is besig om planne te smee om ons te kom beroof?
Die een verduidelik hoeka in ons rigting. Hy het geen voortande nie.
Soveel goed gaan op daardie oomblik deur my gedagtes oor wat dalk hier kán gebeur as ons nie in ons pasoppens is nie. Selfone is mos vir party meer werd as ’n lewe.
Eers wil ek my vererg en sommer op ’n ander plek gaan sit, met my rug na hulle toe. Al voel dit ongemaklik, besluit ons om te bly waar ons is. Mense se stipstaar gaan ons nie intimideer nie, besluit ons. En gewoonlik kyk hulle vinnig weg sodra hulle agterkom jy staar terug.
Maar nie dié twee nie! O nee, ons kyk in hul rigting, maar die tandelose bakkies hou aan staar. Nou sit en staar ons maar vir mekaar. Dit voel nie goed nie.
Neffens ons sit ’n man saam met sy vrou en hul twee klein seuntjies. Ons sien die kinders is tog te in hul skik met die vis en tjips wat in ’n rooi boksie met ’n toeklapdeksel voorgesit word. Die tande klap te heerlik. Houtbaai se vis ís mos wyd en syd bekend as voortreflik.
Toe hulle klaar gesmul het, haal die pa weer sy blou bankkaart uit en verdwyn in die restaurant. Toe hy uitkom, is dit duidelik wat hy daar gaan doen het.
Hy stap met twee boksies vis en tjips na die mans op die muurtjie en gee vir elkeen een. Hulle slaan hul hande saam, glimlag van oor tot oor en ek kan sien hulle sê dankie. Onmiddellik lê hulle weg aan die tjips. Ek sien die een gee vir die ander een nog van syne ook. En die pa gaan sit weer stilweg by sy gesin.
Toe tref dit my: die twee mans sit en staar so, want hulle is honger. Hulle staar na genot waaraan hulle smag om deel te hê.
Die pa het daardie dag voor ’n volgepakte restaurant iets gedoen wat veel luider spreek as woorde.
Ek weet nie of ander mense dit ook raakgesien het nie, maar dit maak nie saak nie. Só iemand doen dit gewoonlik nie om raakgesien te word nie.
En ek? Dit voel of iets hier binne ineenkrimp, so skaam kry ek.