‘Elke kind is vir ons belangrik’

Liezel van der Westhuizen is onlangs as die nuwe hoof van Worcester Voorbereidingskool aangestel, maar is geen vreemdeling by hierdie skool nie.


Liezel van der Westhuizen is onlangs as die nuwe hoof van Worcester Voorbereidingskool aangestel, maar is geen vreemdeling by hierdie skool nie.

“Ek is nou vier jaar by dié skool betrokke en ek sien uit na die nuwe uitdaging, veral met die groot veranderings wat by die skool gaan plaasvind,” sê Van der Westhuizen.

Sy kom uit ’n familie wat ’n groot passie vir onderwys het en graag wil terugploeg in die volgende generasie se lewe.

Haar ouers, broer en verskeie ander familielede is onderwysers. Die gogga het haar vroeg gebyt om ’n loopbaan in onderwys te volg.

“Ek sien uit na die nuwe uitdaging wat oor my pad gekom het, maar daar is nog baie dinge wat ek moet leer. Ek is egter bevoorreg om ’n wonderlike personeel te hê wat vir my die nodige ondersteuning gee.”

Volgens haar kan hulle enige uitdaging aanpak omdat hulle so ’n sterk span by die skool is.

Worcester Voorbereidingskool is vir die eerste keer ’n volledige laerskool en het tans 1 050 leerders wat hul onderrig by dié skool ontvang.

“Ons beplan om ons skoolgebou ook uit te brei. Ek en my personeel is baie opgewonde oor die nuwe uitbreidings en planne by die skool.”

Haar visie vir die skool is dat hulle ’n verskil in die gemeenskap moet maak. Sy noem dat daar kinders uit verskeie agtergronde by die skool is en hulle wil graag in elke leerder se lewe ’n verskil maak.

“Ons wil die leerders waardes leer, hoe om met mense te werk en om ’n sukses in die buitewêreld te maak. Dit gaan nie net oor die akademie, sport en kultuur nie, maar oor die individu wat ’n verskil in die gemeenskap moet maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.