Waar is ons Murcia? Die familie van Murcia Kock (23) van Avian Park in Worcester is naarstiglik op soek na die jong vrou, maar vrees vir die ergste.

Murcia is volgens haar tannie, Mirriam van Rooy, sedert verlede week soek ná sy klagtes teen haar mansvriend by die polisie aanhangig gemaak het. Haar familie het haar hierdie week as vermis by die polisie aangemeld.

Die gemeenskap en polisie het vandeesweek soektogte na haar van stapel gestuur. Klere, wat vermoedelik aan Kock behoort, is Vrydag 3 Junie langs die rivier by Nekkies gevind, het raadslid Desiree Judge gesê. Die polisie se soektog met ‘n hommeltuig is egter belemmer deur die wind wat erg waai.

Die mansvriend is volgens AO. Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie in hegtenis geneem op die klagtes wat Kock teen hom gelê het.

“Die vriend is ‘n verdagte in die saak omdat Kock verskeie klagtes teen hom aanhangig gemaak het. Ons kan egter nie sê hy is wel die skuldige nie – die ondersoek en soektog na Kock duur steeds voort. Hy is ondervra, maar hy het nog geen inligting oor die voorval gegee nie,” het Jacobs gesê.

Die man mag eers geïdentifiseer word wanneer hy in die hof verskyn.

Van Rooy het Worcester toe gekom om haar familie te ondersteun. “Murcia was nadat sy die klag gelê het by die huis, maar is weer weg na haar vriend toe. Sy het so tussen die huis, haar vriend en die dorp beweeg – die polisie en die gemeenskap ken haar,” het sy gesê.

“Ons hoop dat ons haar lewend gaan vind, maar is bekommerd omdat dit nou so lank raak sonder dat ons van haar hoor. As sy dan dood is, is dit vir ons belangrik dat ons darem haar liggaam sal kan kry, sodat ons berusting sal hê. Dit is ‘n baie swaar tyd vir die familie.”

Enigeen wat haar gesien het of met inligting oor die saak, kan die Worcester-polisie skakel by 023 348 8605.

* Die voorval herinner sterk aan die van die 16-jarige Chanelle Plaatjies wat op 14 Mei in die Paarl vermoor is. Drie mans wat aan haar bekend was is in hegtenis geneem.

Groepe inwoners soek in die koue, nat weer na Murcia Kock. Foto: verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.