Feestelike klanke met Tussen die Sterre-konsert help kinders glimlag

’n Glimlag op ’n kind se gesig is weereens die motivering om geld in te samel by die gewilde Tussen die Sterre-konsert wat jaarliks deur Spar Wes-Kaap aangebied word ten bate van Operation Smile Suid-Afrika. Saterdag 28 November kan konsertgangers nie net die begin van die somer by die Liquifruit-­amfiteater op Paarlberg vier nie, maar…


’n Glimlag op ’n kind se gesig is weereens die motivering om geld in te samel by die gewilde Tussen die Sterre-konsert wat jaarliks deur Spar Wes-Kaap aangebied word ten bate van Operation Smile Suid-Afrika.

Saterdag 28 November kan konsertgangers nie net die begin van die somer by die Liquifruit-­amfiteater op Paarlberg vier nie, maar terselfdertyd die aand saam met bekende kunstenaars geniet.

Die konsert bring nie net een nie, maar vier bekende Suid-Afrikaanse musikante saam op een verhoog. Andriëtte Norman, Heinz Winckler, Snotkop en Emo Adams gaan die skare op hul voete hou met ’n eersteklasvertoning.

Vanjaar is die vyfde jaar dat Spar die Tussen die Sterre-konsert borg.

“Die wete dat hierdie geld letterlik sal help om ’n nuutgevonde glimlag op ’n kind se gesig te plaas, wat in ’n behoeftige gemeenskap woon en wat met ’n gesplete verhemelte gebore is, maak alles die moeite werd,” het Elsabe van Zyl, advertensiebestuurder van SPAR Wes-Kaap en Namibië, gesê.

Kaartjies vanaf R200 kan bespreek word by Computicket of op hul webtuiste by www.computicket.co.za.

Die konsert is geskik vir die hele gesin. Daar sal ook kosstalletjies en verversings te koop wees. Die konsert begin om 19:00 en hekke open reeds om 17:00.

Vir meer besonderhede, besoek www.cultivaria.com

You need to be Logged In to leave a comment.