Enrico Claassen

WORCESTER – Sy en haar man het Vrydagmiddag (28 November) nog ’n broodjie saam geëet. Minute later toe sterf hy in ’n fratsongeluk toe die motor waaraan hy gewerk bo-op sy bors beland het.

Paramedici het Frans Human (66) van Idlewindstraat in Hexpark, Worcester op die toneel dood verklaar.

Human se hartseer vrou, Maria (64), vertel dat sy Vrydagmiddag omstreeks twee-uur besig was om ’n beskuitbeslag aan te maak.

Frans was in daardie stadium besig om onder sy kar te werk onder ’n afdak in die oprit van hul woning.

Volgens Maria het sy saam met een van hul kleinkinders, Shakinah Steyn (9), ’n boodskap na haar man gestuur dat hy ’n ogie oor hul twee agterkleinkinders moet hou.

Die een was in daardie stadium in ’n loopring, terwyl die ander een besig was om fiets te ry. Volgens Maria het Shakinah na haar toe terug gekom en gesê haar oupa se oë is toe en dat hy slaap.

“Ek sê toe vir haar, haar oupa is baie kielierig, ‘gaan kielie sy voete, dan gaan hy gou wakker word’.

“Sy kom toe terug na my en sê ‘ouma, maar oupa reageer nie’.

“Jislaaik en ek is hier uit by die deur en ek sien toe die kar lê bo-op my man.

“Ek het toe onmiddellik my een dogter [Elicia Klink (40)] wat in Avianpark bly gebel en gesê sy moet kom, want haar pa het seergekry.”

Maria sê toe haar dogter by die toneel kom het sy (Elicia) onmiddellik ’n paar manne bymekaar gemaak om haar pa te hulp te snel.

Onder hulle was een van Maria en Frans se kleinkinders, Ethan Lukas (18).

Lukas het die kar met ’n domkrag (jack) gehys, terwyl die ander mans Frans van onder die motor uitgetrek het.

Volgens Lukas het sy oupa vroeër die kar met twee domkragte (jacks) gelig en bakstene onder die voorwiele gesit voor hy daaraan begin werk het.

Ethan Lukas by sy oupa se kar waaraan hy ten tyde van sy dood gewerk het. Foto: Enrico Claassen

Maria gaan verder: “Ek het aanhou hoop dat hy nog lewe.”

Volgens haar het paramedici haar man op die toneel dood verklaar.

“Hy het nie eens geraas, geskree of om hulp geroep laat ek kan kom kyk nie. Niks. Die impak was seker te geweldig.”

Volgens Maria het een van die paramedici aan haar gesê dat die motor haar man se bors so gedruk het dat hy nie kon asem kry nie.

Sy sê haar man het ’n hou langs die kop gehad terwyl sy arm ook seergekry het.

“Toe ek hom daar sien lê, het ek amper mal geraak. Dis verskriklik.

“Ek kan nie vir jou beskryf hoe ek voel nie. “Ons familie is stukkend. Ek is regtig stukkend.

“Om te dink ons het net nou nog lekker gesels en ’n broodjie saam geëet.

“Ek het nog vir hom gesê om eers môre (29 November) aan die kar te werk, toe sê hy ‘nee, jy weet dan ek gaan môre Stellenbosch toe’.”

Volgens Maria sou haar man mense per bus na ’n aarbei-plaas in Stellenbosch vervoer het.

Hy was ’n afgetrede langafstand trokdrywer.

Die egpaar se ander dogter Frandeline Springveldt (43) sê toe sy op die toneel kom het sy onmiddellik na haar pa gevra.

“Toe ek sien my pa lê in doeke toegedraai, toe sak ek inmekaar. Dit was verskriklik. Ek het dit nie verwag nie.”

Maria beskryf haar oorlede man as ’n stil, rustige en gelowige mens wat die Here gedien het.

Frans laat sy vrou, Maria, vier kinders, nege kleinkinders en vyf agterkleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article