Of dit nou is wanneer beurtkrag toeslaan of wanneer die volgende groot kamp beplan word – Worcester Gas en Sport se naam duik op as verskaffer van keuse.
Die onderneming is al sedert 1969 ’n onuitputbare bron van benodigdhede vir die buitelewe-entoesias en ondernemings en individue wat op gas staatmaak.
In Oktober 1969 het Elbie de Wit die eerste keer gas in Worcester verkoop, tóé onder die naam Shell Gas. Teen 1971 was Elbie Shell se gashandelaar in die Vallei met handelaars tot by Ceres, Montagu en Villiersdorp wat onder sy wakende oog handel gedryf het.
Dit was ’n besige jaar vir Elbie, want in 1971 is die gasdepot, wat vandag steeds in bedryf is, ook gebou. Gassilinders kon daar gevul en vervoer word.
Met dié suksesvolle onderneming wat uit sy nate begin bars het, het Elbie later verhuis na ’n groter perseel op die hoek van Riebeeck- en Fairbairnstraat. Die perseel het mettertyd ook te klein geword en in 1974 besluit hy om grond te koop by wyle mnr. Roelou Barry en sy eie gebou in Kerkstraat op te rig. Hier word sy onderneming vandag nog bedryf.
Die naam het sowat 30 jaar gelede na Worcester Gas en Sport verander aangesien die winkel ook sporttoerusting verskaf het.
Die sewentiger- en tagtigerjare was die era van die woonwa en toe Elbie se groot nuwe winkel vir hom nog ’n bietjie leeg gelyk het, het hy die eerste Gypsey-opslaanwoonwa met kampeertoerusting uitgestal. Dié uitstalling het aandag getrek en teen 1977 was Elbie, wat intussen ’n agent vir Jurgens geword het, die wenner van vele pryse om erkenning te gee aan sy sukses as Jurgens-handelaar. Die woonwa-afdeling het later verhuis na Reitzplein.
“Die twee winkels en die tak in George het in ’n stadium 130 woonwaens in ’n Desembermaand verkoop,” sê Elbie.
Met die resessie in die negentigerjare het ’n woonwa ’n luukse geword en belangstelling het sodanig afgeneem dat hy uit die woonwamark getree het.
Elbie geniet deesdae sy Karooplase, maar hou steeds ’n wakende oog oor Worcester Gas en Sport wat tans gas, sweisgas en sweistoerusting verskaf, asook ’n wye verskeidenheid kamp-, sport- en hengeltoerusting.