Hy is vriendelik en vrolik, spontaan en vol selfvertroue. Dis hoe Deuwin du Toit se vriende en kennisse hom beskryf. Vele struikelblokke het egter nie gekeer dat hy onlangs by Pionierskool vir siggestremdes matrikuleer nie.

Dié jong man was nie altyd só geesdriftig nie. Toe hy in graad 8 by Pionierskool aansluit, het hy met selfvertroue gesukkel en gesukkel om in homself te glo.

Deuwin is na die Pionierskool verskuif nadat hy weens sy swak sig nie meer goed by Bontebok Primêr in Swellendam kon funksioneer nie. Hy was een van 45 leerders in die gr. 7-klas. Selfs daar waar hy heel voor met sy neus feitlik teenaan die bord gesit het, kon hy niks uitmaak nie, veral as die onderwyser geel kryt gebruik het. Hy moes maar die werk by sy klasmaat langs hom afskryf, vertel Deuwin.

Pouses het ander leerders hom buite op die speelterrein gespot: “Wat sien jy daar dóér?” en hulle dan geknak as hy nie ook, soos hulle, tot “daar doer” kon sien nie.

Hy lag verleë en wikkel so ’n bietjie agtertoe op die rusbank in die sitkamertjie van Huis Schoeman, die kuierkamer.

“Aan die begin was die lewe hier vir my ’n groot aanpassing. Ek het my maats en die huiskos gemis. Boonop moes ek, as ek af en toe huis toe gegaan het, agterkom dat my ou maats aanbeweeg het; net hier en daar was nog iemand.”

Nog struikelblokke het sy pad gekruis. Aan die begin van sy gr. 10-jaar is sy pa skielik oorlede. “Ek kon nie op my skoolwerk fokus nie. Ek was baie hartseer, daardie hele jaar. Dit het die mat onder my uitgeruk,” sê hy, die lag meteens uit sy stem.

“Ek wil my pa trots maak op my, al is hy vandag nie meer hier nie. Hy het altyd vir my gesê: ‘Deuwin, deursettingsvermoë is alles, en jy moenie lui wees nie.’”

Deuwin wou in sy matriekjaar opskop, want die werkslading het te veel geword, maar sy onderwysers het hom gemotiveer om aan te hou met sy skoolloopbaan.

Hy is bly hy het nie opgegee nie. “Ek het dit gemaak. Niks kan nou meer in my pad staan nie.”

Die les wat hy hieruit geleer het, is om in homself te glo en dat hy ten spyte van sy swak sig ook net ’n gewone mens is wat enigiets kan doen – ook sy drome najaag.

You need to be Logged In to leave a comment.