BOWL Addiction Treatment Services het onlangs ‘n suksesvolle bewusmakingsdag aangebied.

‘n Bewusmakingsdag vir geestesgesondheid, geslagsgebasseerde geweld en middelmisbruik is onlangs in Worcester gehou.

Dié dag, wat deur twee toegewyde maatskaplike-werkstudente gereël is, het op uitdagings waarmee die jeug wor­stel – soos stres, angs, geslagsgeweld, emosionele welstand en middelmisbruik – gefokus.

Berneleen Japtha en Eushaan van der Merwe is vierdejaarstudente en werk by BOWL Addiction Treatment Services.

Hulle het in hul opleiding besef dié probleme, wat dikwels met mekaar verband hou, baie mense in die gemeenskap raak.

Dit geld veral vir jongmense.

Die doel van die dag was om ‘n veilige ruimte te skep waar hier­die kwessies bespreek kon word.

Deelnemers het aan verskeie sessies deelgeneem waar hulle bemagtig is met die nodige kennis en praktiese vaardighede sodat hulle gesonder keuses kan maak, leer hoe om hul geestelike en emosionele gesondheid te prioritiseer en ander te help.

Die kernboodskap was duidelik – om hulp te vra of aan te bied is ‘n teken van krag, nie swakheid nie.

Die sukses van die bewusmakingsdag is ‘n bewys van goeie samewerking in die gemeenskap.

BOWL het sy waardering uitgespreek teenoor die koördineerders, die personeel en fasiliteerders, insluitend Felicity Fransman en Sandorina Swartz, asook die seremoniemeester vir die dag, Chester Williams.

Hulle het hul borge, wat die dag deur skenkings moontlik gemaak het, bedank, asook BOWL se diensgebruikers wat hul stories van hoop gedeel het.

You need to be Logged In to leave a comment.