Van links is Sadie Petro, Tricia Apollis, Tazneem Mentoor, Deolet Wiid, Suné Antonie en Jennifer Baster. Foto: Verskaf


“Ek is so trots op my kinders. Ek was in ongeloof, ek het gehuil en die Here geprys.”

Dit was die reaksie van die geskiedenisonderwyser van die Hoërskool Hexvallei, Deolet Wiid, toe vyf van dié skool se ses matriekleerders (almal meisies) in die geskiedenisklas A-simbole in hul geskiedenis eindeksamen-vraestel gekry het en die sesde leerder ’n B-simbool van 78% behaal het.

Wiid het gesê dié prestasie is “ ’n resultaat van omgee. Omdat dit ’n klein groep was, kon ek intiem met hulle werk, nie net as onderwyser nie, maar as ’n ma. Ons het saam gehuil, gelag en geskel, ons kon praat oor enigiets. Dit is vir my belangrik om te weet waarvandaan hulle kom.”

Tricia Apollis, een van die leerders, het Wiid bedank vir haar onderwys en die omgee vir haar en haar klasmaats.

“Sy is nie net ’n onderwyser nie, maar ook ’n ma. Sy het haar klas aangebied asof sy ’n vriendin was. Dit het my aangemoedig om positief te bly en te presteer.”

Wiid se leuse van “Ek kan in jou glo, maar jy moet in jouself glo” het vir Apollis uitgestaan .

Wiid, met haar kennis as ’n senior nasiener, het die groep meisies gehelp om deur ou memorandums te werk en hul fokus sedert Junie op sekere vrae te skuif wat die res van die provinsie moeilik sou vind om te beantwoord. Sy dring daarop aan dat alle leerders tot ’n A-simbool in staat is.

“Geskiedenis is ’n leervak. Ek vertel ’n storie en jy moet daarna luister en die volgende dag terugkom om daaroor te skryf. Baie mense besef nie die waarde van geskiedenis as vak in ons land nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.