Ashwill Sauls is Saterdag tydens ’n rugbywedstryd beseer en het later as gevolg van sy besering beswyk.


Die breë rugbygemeenskap treur oor die dood van ’n belowende Robertson Rangers-speler.

Ashwill Sauls (24) is dood nadat hy Saterdag tydens sy span se wedstryd teen Montagu beseer is. Hy het volgens inligting ribbes gebreek en is na die Montagu-hospitaal geneem.

“Hy was op die aanval en een van die ander span se spelers het hom toe van agter af getakel. Hy het met die bal onder hom op die veld geland,” het David Eyssen, die klub se ondervoorsitter, verduidelik. Hy het egter nie verder uitgebrei nie.

Volgens Eyssen speel Sauls al die afgelope drie jaar vir die klub.

“Hy was ’n spesiale speler met spesiale talente. Hy het in die nommer 9- en nommer 15-posisies vir ons klub gespeel. Hy was nie net ’n gewone speler nie. Hy was ook ’n mense-mens.”

Die gemeenskap van Robertson asook die rugbygemeenskap is diep geskok oor die voorval.

“Sedert dit Saterdag gebeur het, is die span almal getraumatiseer. Dis ’n diep seer wat ons almal ondervind. Ons sal binnekort berading aan die res van ons spelers bied. Ons beplan om twee gedenkdienste vir Ashwill te hou en sal die detail deel nadat ons dit gefinaliseer het.”

Talle rugbyklubs van oor die streek heen en selfs wyer het hul medelye met die klub asook Sauls se familie uitgespreek.

“Dit is met absolute skok en diepe droefheid dat ons verneem het van die afsterwe van Ashwill Sauls, ’n jong en opwindende heelagter van Rangers Robertson. Hy het vandag (Saterdag) ná ’n ernstige besering op die King Edward-stadion in Montagu beswyk. Rangers Robertson het aan die jaarlikse Swann- vriendskaplike bekerwedstryd in dié Bolandse dorp deelgeneem. Langs hierdie weg wil die Villagers Worcester-rugbyvoetbalklub ons opregte medelye en simpatie aan sy ouers, familie, vriende, mede-spelers, die Rangers Robertson-rugbyvoetbalklub, die gemeenskap van Robertson asook die organiseerders van die rugbytoernooi en die Boland Rugby-familie oordra. Mag die goeie Vader julle versterk, vertroos en van die nodige krag in hierdie uiters moeilike tyd voorsien,” het Worcester Villagers op sy Facebookblad geskryf.

Boland Rugby het ook ’n persverklaring oor die voorval op sy amptelike Facebook-blad gedeel.

“Die Boland Rugby-gemeenskap is in rou ná die afsterwe van ’n belowende speler van Robertson Rangers wat gister (Saterdag) aan ’n vriendskaplike wedstryd deelgeneem het. Dit het onder die aandag van die uitvoerende komitee gekom dat die speler Saterdag (21 September) in die Montagu-hospitaal oorlede is.

“Die president van die Boland Rugby-unie, Bennie van Rooi, het sy medelye en sterkte aan die familie, sowel as die klub, oorgedra en doen ’n beroep op die Boland rugby-gemeenskap om die familie se privaatheid te respekteer in hierdie moeilike tyd.

“Die Unie het bevestig dat hulle die nodige ondersteuning aan die familie en klub sal gee en sal toesien dat beradingsdienste beskikbaar gestel word om diegene wat geraak is, by te staan,” lui ’n gedeelte van die boodskap.

You need to be Logged In to leave a comment.