’n Splinternuwe dagsorgsentrum het pas in Avianpark geopen.
Die Kolgansies-skooltjie het op 1 Februarie vanjaar sy eerste kinders verwelkom en registrasie by die onderwysdepartement as VKO-sentrum (ECD) is tans aan die gang. Dit het weldoeners sowat drie jaar geneem om dit tot stand te bring en Lena Johnson, ’n plaaslike inwoner, se droom ’n werklikheid te maak.
Johnson bedryf sedert 2012 haar eie sopkombuis en voorsien gekookte kos twee keer per week aan sowat 150 kinders van die omgewing. Sy bedryf die voedingskema uit haar eie kombuis asook by die skooltjie reg oorkant haar huis.
Johnson se buurvrou, Lena Legransie, is die VKO-onderwyser wat by Boland Kollege studeer. Lydia Maritz staan die twee vroue in die kombuis en klaskamer by.
Dr. Johan Blomerus van SCP Worcester Radiologie het die projek met die hulp van talle vennote gekoördineer. Wilna Roux Prokureurs het byvoorbeeld die oordrag van die murasie by Kolgansstraat 68 – wat intussen ’n metamorfose ondergaan het – op die NPO se naam behartig terwyl die sopkombuis ook met die hulp van vennote voortgaan.
SCP Worcester Radiologie, die NG gemeente Worcester-Vallei en skenkers soos Hofmeyr en Laubscher Tandartse, Jaffe’s Ford en Wynne Wolstenholme, het deur die jare gehelp om die sopkombuis met weeklikse aflewerings van bederfbare goedere te onderhou.
Hulle het hul steun in 2020 tot ’n veel groter veldtog, die TLC-gemeenskapsprojek, uitgebrei om ook behoeftige gesinne deur die grendeltyd te onderhou.
Dié veldtog het saam met skenkings van Pool Vervoer, Afrimat en Buco genoeg bydraes gewerf om ook die skooltjie te voltooi. Legransie kon by Boland Kollege ingeskryf word en word besonder goed ondersteun deur Linda Groenewald van die ACVV Bollieland Crèche.
Die sentrum is op voorskoolse kinders van werkende ouers gerig. Hulle volg ’n goedgekeurde VKO-program en kry twee etes en twee peuselhappies per dag.
Ouers betaal ’n minimale bedrag per maand om die lopende uitgawes te help dek.
’n Sigbaar oorstelpte Johnson het almal wat ’n bydrae gelewer het, bedank vir hul hulp om haar groot droom te bewaarheid. Toe sy self in 2019 in ’n bendeverwante skietery voor haar huis gewond is, het sy die wens uitgespreek om kinders bedags uit die strate te kry en ’n veilige heenkome te gee.
Legransie het op haar beurt gesê sy is dankbaar vir die geleentheid om te kon studeer en vir ander se kinders die geleerdheid te gee wat sy nooit as kind gehad het nie. “Dit (die sentrum) is nie vir ons as grootmense nie. Dit is in die belang van ons kinders.”