Colin Wilskut (BO-raadslid), troos Johannes Jacobs se moeder, Hendriena Adams, voor die hof.

Marlene Jordaan

Lede van die gemeenskap het vanoggend by die hof in Worcester ‘n petisie geteken om te vra dat die man wat vir moord aangekla is nadat hy ‘n informele skrootversamelaar Vrydag in die dorp se nywerheidsgebied na bewering doodgeskiet het, nie borgtog moet kry nie. 

Elton Weise (44), wat weens die moord op Johannes Jacobs (27) moet teregstaan, het Maandagoggend vlugtig in die hof verskyn. Sy borgtogaansoek is uitgestel na Dinsdag 31 Julie. Weise doen glo subkontrakwerk vir ‘n onderneming wat waentjies en vullishouers vervaardig. Volgens ooggetuies is Jacobs geskiet nadat ‘n onderonsie tussen hom en Weise uitgebreek het nadat Jacobs en ‘n familielid na skroot gesoek het. 

Lede van die gemeenskap betoog teen borgtog vir Elton Weise, wat aangekla is van die moord op Johannes Jacobs.

Die gemeenskap in Worcester sit intussen aan twee kante van die draad oor die voorval en gemoedere loop hoog, veral op sosiale media. Aan die een kant sê ondersteuners van Weise daar skuil veel meer agter die voorval as wat nou ooglopend is en dat die daad eintlik uit selfverdediging gepleeg is. 

Aan die ander kant is Jacobs se ondersteuners wat sê hy is koelbloedig in die straat geskiet en dat die voorval met ras en armoede verband hou. Geen getuienis oor die saak is egter nog op rekord geplaas nie.  

Antoinette Steyn, uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, spreek optoggangers voor haar kantoor toe vanoggend.

Optoggangers het na die munisipale kantore beweeg, waar die burgemeester, Antoinette Steyn, aangekondig het dat boetes wat die afgelope paar weke aan haweloses en skrootversamelaars gegee is, teruggetrek gaan word. Sy het ook haar medelye met die familie van die slagoffer uitgespreek. 

Lees meer in Donderdag se Standard. 

You need to be Logged In to leave a comment.