Hoërskool Waveren se toppresteerder, Gerrit Booysen, sê hy is baie opgewonde oor die jaar wat voorlê.
Hy het verlede Donderdag in Stellenbosch ’n sertifikaat van die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit ontvang vir sy harde en toegewyde werk deur die jaar.
Gerrit sê hy was regtig baie ontspanne gedurende die eksamen.
“Ek het voor elke vraestel probeer rustig raak. Die eksamen moet jy geniet en jy moet ontspan. Anders werk jy jouself op en dan is jy die hele tyd gespanne.
Ek het tydens die eksamen elke dag deur my werk gegaan en dit is wat my suksesvol gemaak het,” het Gerrit gesê.
Gerrit sê leerders wat vanjaar in matriek is, moet die jaar geniet.
“Doen alles tot die beste van jou vermoë en doen dít wat van jou verwag word. Werk van die begin van die jaar af hard.
“Moenie wag tot die laaste nippertjie om voor te berei vir die eksamen nie.”
Hy gaan vanjaar verpleging aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer.
“Ek is baie opgewonde om die kursus te begin. Ek is ’n mensemens en wil graag ander help – dit is hoekom ek besluit het om verpleging te studeer,” het hy gesê.