Groot groepe inwoners het hul kant die afgelope week gebring om te help om skoolkinders reg vir die begin van die skooljaar te kry.
Gemeenskapslede is vanaf Sondag hard besig om kinders vir die skool voor te berei deur hul hare te vleg en te skeer asook om naels te knip – en dit alles gratis.
Daar was verskeie plekke in Avianpark, Roodewal en Riverview waar die jonges kon gaan om hulle reg te kry vir die nuwe skooljaar. By van die plekke het die kinders selfs waatlemoen gekry om te eet terwyl hulle gewag het.
Selfs die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het Maandag en Dinsdag verskeie projekte in Riverview, Avianpark en Roodewal aangebied om die leerders weer skoolgereed te kry.
Volgens JP Myburg, BVM-woordvoerder, het die munisipaliteit se departement van gemeenskapsontwikkeling tesame met verskeie rolspelers en vrywilligers in die gemeenskap saamgekom om leerders te bederf voor die skole weer oopmaak.
“Daar is hare gesny en hare gevleg. Leerders kon vir oulaas bietjie vakansie hou en verskeie speletjies saam met hul maats speel. Ons sê dankie aan ieder en elk wat ’n bydrae gelewer het om hierdie projekte ’n groot sukses te maak. Ons wens ook alle leerders en hul ouers ’n voorspoedige jaar toe en hoop dat 2022 ’n uitnemende akademiese jaar sal wees,” sê Myburg.