Gimmies gee toon aan op rekenaars en tablette

’n Toonaangewende hoërskool op Worcester is sover bekend die eerste skool in die Breedevallei wat van vanjaar af van elektroniese leer (e-leer) gebruik maak om aan leerders ’n interaktiewe, digitale leerervaring te bied.


’n Toonaangewende hoërskool op Worcester is sover bekend die eerste skool in die Breedevallei wat van vanjaar af van elektroniese leer (e-leer) gebruik maak om aan leerders ’n interaktiewe, digitale leerervaring te bied.

Worcester Gimnasium is volgens mnr. Kobus Minnie, e-leer-koördineerder van die skool, ’n voorloper wat betref e-leer aangesien dit eerstens in alle klaskamers en onderriglokale van dataprojektors gebruik maak, maar tweedens veral omdat die leerders van toestelle soos skootrekenaars en tablette in die klaskamer gebruik maak.

“Ons glo dat ons, as ’n skool wat in uitnemendheid glo, ons leerders te na kom as ons nie die beste moontlike hulpbronne vir leer en onderrig gebruik nie. Daar is deesdae ongelooflike goeie digitale hulpbronne beskikbaar en ons wil dit graag so ver as moontlik tot die voordeel van ons leerders gebruik,” verduidelik Minnie.

Volgens hom behels e-leer alles wat te doen het met die gebruik van digitale hulpbronne in die klas.

“Tot dusver het ons gefokus op onderrig en die gerbuik van e-leer deur onderwysers. Nou begin ons met die volgende stap, naamlik die gebruik van digitale toestelle deur leerders in die klaskamer,” het hy vertel.

Wat die leerders betref sal hulle nou toegang tot elektroniese handboeke in bykans alle vakke hê en hierdie handboeke kan multimedia-hulpmiddels soos video’s, animasie en klankgrepe insluit.

“Die onderwysers kan nou byvoegings maak tot die handboeke sodat bykomende nota’s, video’s, ensomeer, sommer in die handboeke beskikbaar is,” het Minnie die pluspunte van e-handboeke verduidelik.

“Die leerders het dan ook toegang tot al die ander hulpmiddels wat tablette en skootrekenaars bied, soos die verskillende toepassings en ander navorsingsbronne,” het hy bygevoeg.

Minnie sê dat die skool nog besig is met die implementeringsfase.

“Ons draadlose (WiFi-) infrastruktuur is tydens die vakansie geïnstalleer en ons is tans besig met die laai van die boeke. Ons glo dat die eerste leerders binne die volgende week ten volle gebruik sal kan maak van die nuwe fasiliteite,” het hy opgewonde vertel.

Die onderwysers het met die aanvang van die skooljaar ’n paar uur se opleiding ontvang.

“Gelukkig is die meeste van hulle al vertroud met rekenaars en dataprojektors, so hierdie nuwe ontwikkeling is maar net ’n stappie verder. Daar is ook deurlopende steun vir hulle beskikbaar,” het Minnie bygevoeg.

Wat betref die finansiële implikasies wat hierdie digitale leermetode vir leerders en hulle ouers het, het hy verduidelik dat die deelname aan hierdie projek vrywillig is omdat hulle besef dat nie alle ouers die nuwe tegnologie kan beskostig nie.

“Ouers moet self die tablette of skootrekenaars aankoop en elke leerder neem verantwoordelikheid vir sy eie toestel. Verder is daar ’n jaarlikse administratiewe fooi wat betaal moet word en die ouers moet self vir die elektroniese handboeke betaal, aangesien dit tans nie deur die onderwysdepartement finansier word nie,” sê hy.

“Al ons leerders ontvang sover ook nog gewone handboeke, so geen leerder word benadeel deur die nuwe stelsel nie. Ons glo dat die voordeel van die wyer gebruik van tegnologie, veral deur die onderwysers, ook gaan deurspoel na dié leerders wie se ouers nie kan bekostig om aan die projek deel te neem nie,” het hy ouers gerus gestel.

Volgens Minnie het die opgradering van die bestaande draadlose stelsel ’n aansienlike bedrag gekos.

“Die WiFi-stelsel moet tot ’n 1 000 gebruikers gelyktydig kan hanteer, dus kon ons nie hier afskeep nie. Ons moes verder ook seker maak dat net die beste veiligheidsmaatreëls toegepas word. Gelukkig het ons die volle ondersteuning van die beheerliggaam ten opsigte van hierdie ontwikkeling,” het hy gesê.

Rina Blomerus, ’n ouer van ’n graad 8-leerder by die skool, is baie entoesiasties oor die nuwe verwikkeling.

“As ouer met alreeds twee kinders op universiteit, besef ek die belangrikheid van elektroniese leer en die wye gebruik daarvan op tersiêre vlak en in die werkplek.

“Ek is voorwaar trots op Worcester Gimnasium wat weer eens op akademiese gebied sy leerders voorberei vir die uitdagings daarbuite. Ons sien met groot opgewondenheid uit hoe die leerders hierdie hulpmiddel binne die raamwerk van die klaskamer sal leer gebruik. Welgedaan, julle is weer eens leiers wat die kind eerste stel. Ons is sommer baie trots om deel te wees van die wenspan!” het sy opgewonde gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.