Glen Heatlie se groentetuin beste in distrik

Glen Heatlie Primêre Skool in De Wet se leerders het groen vingers.


Glen Heatlie Primêre Skool in De Wet se leerders het groen vingers.

Die skool se groentetuin is onlangs as die beste tuin in die Wynland-distrik deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) aangewys. Die skool is nou ’n finalis in die WKOD se eindronde van die skoletuinkompetisie en wag vir die beoordelaars se finale beslissing.

Die koördineerder van die skool se groentetuin en voedingskema, Sharon Cupido, sê een van die kompetisie se kriteria was dat die tuin ’n inkomste vir die skool moes genereer.

“ ’n Gedeelte van die oes verkoop ons aan die plaaslike gemeenskap en ’n groot deel word gebruik vir die skool se voedingskema.”

Die skool het die groentetuin sowat twee jaar gelede begin. “Ons kweek groente soos spinasie, beet, kool, pampoen, spanspek en skorsies,” sê Cupido. “Ons het selfs kruie,” voeg sy by.

Cupido sê ’n beoordelaar wat die skool besoek het was beïndruk met die voorkoms en instandhouding van die tuin. Sy sê die tuin hou ook verskeie voordele vir die leerders in.

“Ons betrek die leerders en hulle neem ook eienaarskap met betrekking tot die tuin. Sodoende leer hulle nuwe vaardighede aan en hoe om self groente te kweek.”

Sy sê dit dien ook as ’n leerskool. “Dis ook in ons kurrikulum geïnkorporeer. Die leerders leer watter groente word in watter seisoen geoes.”

’n Graad 6-leeder, Eugene Thomas, sê hy leer baie deur in die groentetuin te werk. “Dis lekker om die tuin mooi te maak. Ons leer oor hoe belangrik water en kompos is.”

You need to be Logged In to leave a comment.