Hexvallei Sekondêre Skool se dramagroep is weer op die been en het altesaam tien sertifikate by die Nasionale Jeugkunstefees in Montagu verower.
Dit kom nadat die skool in 2019 moes afskeid neem van al die leerders wat deel was van die dramagroep.
“Hulle het gematrikuleer en in 2020 was daar nie ’n fees nie as gevolg van die virus,” sê Marius Mampa, drama-afrigter by die skool.
“Ons het wel in 2021 voortgegaan met die groep, maar ons moes toe gebruik maak van heeltemal nuwe leerders. Uiteindelik kon ons voortgaan met net nege graad 8-meisies. “Hierdie meisies het nog nooit drama gedoen nie, maar hulle het opgedaag vir elke oefening,” vertel hy.
Die groep het onder leiding van Mampa ingeskryf vir die kunstefees in Montagu en het op Vrydag 20 Augustus opgetree. Hul uitslae was bo verwagting.
“Onder die jong akteurs het ons sewe silwer sertifikate gekry asook drie goue sertifikate,” sê Mampa.