Twee graad 12-leerders van Worcester Gimnasium is pas as die Wes-Kaapse wenners van die kookprogram Groot Ontbyt-skolekookkompetisie aangewys.
Hulle gaan nou aan die kompetisie se eindronde deelneem.
Chandré Konstable en Amber Voigt (albei 17) se seslaagsjokoladekoek wat hulle in die die halfeindronde gemaak het, het die beoordelaars, Johnny Hamman, Selwyn October, Marinda Engelbrecht en Elmarie Louw van Feedem, beïndruk.
Worcester Gimnasium is ewe trots op die jong sjefs se prestasie.
“Ons is supertrots op Amber en Chandré. Baie geluk! Dit is voorwaar ’n prestasie om op trots te wees,” lui ’n plasing op die skool se Facebook-blad.
Chandré se liefde vir kook het in graad 10, toe sy by die gasvryheidstudiesklas aangesluit het, begin.
“Ek hou daarvan om nuwe disse te probeer. Wanneer my ma kook, berei ek altyd ’n nuwe sous voor,’’ sê Chandré. Die beste wenk wat sy in die kompetisie geleer het, is om onder alle omstandighede gefokus te bly.
Amber help haar ma al van jongs af in die kombuis. Sy sê sy hou daarvan om poedings voor te berei. Haar ma vra haar altyd om Sondae iets soets te maak. Amber sê die ervaring om op televisie te kook en mee te ding was opwindend. “Die beste was om saam met TV-sterre te wees,’’ voeg sy by.
Die harde werk vir die sjefs is egter nog nie verby nie. Amber en Chandré sal in die eindronde, wat in Oktober plaasvind, teen leerders van drie ander skole in ander provinsies meeding.
Amber en Chandré sê hul fokus is nou eers op die eksamen, maar hulle is slaggereed om aan die eindronde deel te neem.
Albei wil ná skool as sjefs studeer.
Hul gasvryheidstudiesonderwyser, Romanda Viljoen, sê Amber en Chandré vaar altyd uitstekend in hul prakties.
“’n Bom kan langs hulle bars; hulle sal gefokus bly. Hulle het baie ontwikkel en kan nou intuïtief hul eie geregte aanmekaarslaan.”
Ander disse wat Amber en Chandré in die kompetisie gemaak het, was varkfillet met spek en groente as bygereg en gekleurde brood met ’n smeer by. Vanjaar was die derde jaar dat leerders van Worcester Gimnasium aan die kompetisie deelneem.
Die Groot Ontbyt-skolekookkompetisie word op kykNET kanaal 144 uitgesaai.
. Mense wat Amber en Chandré wil ontmoet en hul wenner-seslaagsjokoladekoek wil proe, word na ’n koffie-, koek- en teepartytjie môre (Vrydag 28 September) 10:00 by Café Hugo in Q Square genooi. Koste: R50.