Eerskomende Saterdag (15 Januarie) vier Mega Oval-ovaalbaanklub sy 50ste jaar van wedrenne by die Mega Oval-ovaalbaan op die Kleinplasie-skougronde met heerlike feesvieringe.
Die eerste wedrenne is in Januarie 1972 tydens die Worcester-skou deur die destydse Worcester-motorklub hier aangebied. Sedert daardie roemryke dag is ovaalbaanrenne gereeld gehou onder leiding van verskeie motorklubs.
Die Worcester-motorklub het die langste verbintentenis met die baan en het gereeld tussen 1972 en 2000 wedrenne aangebied. Ray Smokey Speedway, onder leiding van John en Sean Sinclair van Kraaifontein, het van 2000 tot 2008 die baan bestuur en Kleinplasie Ovaltrack onder leiding van oom Alwyn Truter en sy seuns het – met behulp van Estelle Rossouw – van 2008 tot 2010 die baan bestuur. In 2010 het Sakkie Joubert die klub oorgeneem en Kleinplasie Raceway gestig nadat die Worcester-motorklub ontbind het.
Met die oorname van die skougronde deur die Agri Mega-groep in 2015 het die gebrul van enjins vir ‘n wyle stil geraak, dit is nou totdat die Mega-ovaalbaanklub in 2016 gestig is. Mega Oval bied sedertdien maandeliks wedrenne hier aan en dit is tans een van die grootste ovaalbaanklubs in die land, met die naam Kleinplasie sinoniem met ovaalbaanwedrenne.
Saterdag vier die klub hierdie mylpaal met groot feesvieringe en die organiseerders belowe ‘n dag vol opwinding vir die toeskouers. ‘n Optog van die renmotors sal deur Hoogstraat beweeg.
Die optog begin om 12:45 by HTS Drostdy en sal dan na die Kleinplasie-skougronde beweeg. Om 14:00 tree die sangpaar Wynand en Cheree voor die hoofpawiljoen op en om 16:45 word daar ‘n ere-ronde ter herdenking van die ovaalwedren-legendes gery.
Wedrenne begin om 17:00 en renjaers van Cape Helldrivers, Weskus Oval Track, Cape Agulhas Raceway, Mega Oval, George-motorklub, Oudtshoorn-motorklub en selfs so ver as Bloemfontein word verwag.
Om die dag meer suksesvol te maak en te sorg dat almal iets het om te eet, sal daar ook’n verskeidenheid van stalletjies beskikbaar wees. Die borg vir die geleentheid is Body Complete, wat ook ‘n aantal renmotors borg vir die byeenkoms.
Die hekke open om 13:00 en wedrenne begin net na 17:00, alhoewel die verrigtinge vir die dag reeds om 14:00 afskop met die die musiekvertoning in die hoofarena.
Vir verdere navrae, kontak JD van den Berg by 083 350 9481.