‘n Skermgreep van die krieketseuns wat platval op die gras nadat skote in die pad aangrensend aan die sportveld afgevuur is waar die krieketfees aangebied is.

WORCESTER – Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) ontken dat koeëls enigsins oor die koppe van jong krieketspelers of toeskouers gevlieg het toe ‘n skietery op Maandag 6 Oktober knap langs die perseel van die Laerskool Worcester-Oos uitgebreek het.

So sê Millicent Merton, ‘n woordvoerder van die WKOD. Die departement ontken voorts dat enige koeëls in enige mobiele klaskamers gevind is.

Standard Breederivier Gazette het die naweek op sy nasionale aanlynplatvorm, NovaNews, berig dat die skietvoorval plaasgevind het te midde van die Thirsti-krieketfees, wat van 3 tot 7 Oktober in Worcester aangebied is.

Ten tyde van die voorval was o.13-krieketspelers van ‘n laerskool in die noordelike voorstede van Kaapstad en een in die Overberg besig om kragte te meet. Ná sowat twee minute ná die begin van die wedstryd kan in ‘n selfoonvideo-opname gesien word hoe die jong krieketspelers op die gras neerval toe die skote begin klap.

Volgens Merton het die organiseerders die wedstryd gestaak en met spelers, afrigters en toeskouers gekonsulteer om vas te stel of iemand traumaberading benodig. “Niemand het ‘n behoefte aan berading aangedui nie, en geen mediese hulp was nodig nie.”

‘n Ouer wat die wedstryd bygewoon het, het vroeër gesê een van die spelers van die Kaapse skool, wat ten tyde van die skietvoorval veldwerk gedoen en op die grens van die veld – glo ‘n paar treë van waar die skietery plaasgevind het – só getraumatiseer was dat hy mediese behandeling moes ontvang.

Volgens Merton is die wedstryd ná die voorval na ‘n ander veld verskuif.

AO Vathiswa Jacobs, ‘n polisiewoordvoerder, sê die Rawsonville-polisie het die polisie in Worcester omstreeks 14:00 op die dag van die skietvoorval se hulp gevra terwyl hulle besig was om ‘n wit Volkswagen Polo met ‘n Kaapse registrasienommer agterna te sit.

Volgens Jacobs het die jaagtog gevolg nadat die insittendes van die voertuig na bewering by ‘n rooftog op ‘n perseel in Rawsonville betrokke was.

Lede van die Worcester-polisie het Rawsonville-polisiebeamptes bygestaan deur die ingang na Worcester by die Nekkies-vakansie-oord af te sper.

Volgens Jacobs het die bestuurder van die Volkswagen Polo egter deur die padversperring gejaag, waarna lede van Worcester-polisie die voertuig agterna-gesit het. Sy sê die polisie het daarin geslaag om die voertuig by ‘n oop stuk veld naby die R60 (Robertson-pad) tot stilstand te bring.

Volgens Jacobs het twee verdagtes uit die voertuig gespring en in die rigting van ‘n minibus-taxi in die omgewing gehardloop.

Sy sê waarskuwingskote is afgevuur, maar kon nie bevestig hoeveel skote geskiet is nie.

Sy sê een van die verdagtes is vasgetrek voordat hy in die minibus-taxi kon klim, terwyl lede van die polisie se lugvleuel en die Worcester-polisie die tweede verdagte uit die minibus-taxi verwyder het. Die verdagtes is na die Rawsonville-polisiekantoor geneem en aangehou.

Die polisie het op die Polo beslag gelê. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.