Ouers en leerders het onlangs Kleinplasie se skoletalentkompetisie goed ondersteun, met Lifestyle Christian Academy wat met die louere weggestap het.
Leerders van Worcester Sêkondere Skool, Esselenpark Primêre Skool, HTS Drostdy, Roodewal Primêr, Lifestyle Christian Academy, Hexpark Primêr en Worcester RK Primêr het aan die talentkompetisie deelgeneem.
Die beoordelaars was Brenda Matsau, Kevi van Wyk en Magda Vos. Die organiseerder, Lidia Wilken, sê die Kleinplasie-skoletalentkompetisie is vanjaar vir die eerste keer gehou. “Die doel van die talentkompetisie is om die gemeenskap, veral skole, by Kleinplasie te betrek.”
Lidia sê die organiseerders het dit geniet om al die talent op die verhoog te sien.
Elke leerder van die wenspan het ’n sertifikaat ontvang en ’n kontantprys is aan die skool oorhandig.
Deelnemers is deur die organiseerders bedank.
“Kleinplasie se eerste talentkompetisie was ’n groot sukses. Dankie aan elkeen wat deelgeneem het en hierdie kompetisie so onvergeetlik gemaak het. Baie geluk aan die wenners, Lifestyle Christian Academy,” het Lidia gesê.