Hendré Jacobs, ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Montana, het vandeesweek ’n spesiale toekenning by die 2019- United-ruimteskool (USS) by Nasa in die VSA ontvang.
“Dit is die Above and Beyond-toekenning vir deurlopende uitnemendheid. Dit is een van die toptwee Flag Awards,” verduidelik sy trotse skoolhoof, Dawie Diedericks.
“Wat die prestasie meer uitsonderlik maak, is die feit dat hy dit tussen uitgesoekte leerders vanoor die wêreld verwerf het. Volgens my kennis was hy ook die jongste in die groep,” sê Diedericks.
Die Stigting vir Internasionale Ruimte-onderrig (Fise) bied die USS jaarliks by Nasa in Houston, Texas aan.
Vanjaar was Hendré een van slegs twee Suid-Afrikaanse leerders by die USS.
Die leerders wat gekeur is om die twee weke lange ruimteskool by te woon, moes uitblink in wiskunde en fisiese wetenskappe en moet ’n groot belangstelling in ruimteverwante wetenskap en samestellings toon.
Die leerders moes gedurende die ruimteskool in groepe werk en hul eie sending na Mars ontwerp, onder leiding van mentors wat ingenieurs, wetenskaplikes en kenners in die lugvaartbedryf ingesluit het.
Hendré het Woensdag uit die VSA teruggekeer en omstreeks 09:30 in Kaapstad geland.