Hoërskool Hexvallei in De Doorns het ’n besonderse toekenning ontvang by die Wes-Kaapse onderwysdepartement se jaarlikse NSS-merietetoekennings by Leeuwenhof, die premierswoning, in Kaapstad.
Die skool is aangewys as die skool in die provinsie wat die afgelope drie jaar die grootste toename getoon het in matrieks wat vir B-graadstudies kwalifiseer. Dié persentasie was verlede jaar ’n indrukwekkende 84,6%.
Tesame met dié prestasie het die skool ook ’n 100%-slaagsyfer behaal.
Die prestasies is volgens die skool te danke aan die leierskap van die skoolhoof, mnr. Trevor Scheepers, die toegewyde en hardwerkende onderwysers en ’n matriekklas wat bo verwagting presteer het.