Standard het Donderdag 28 November by Hexvallei Sekondêr se kultuuraand gaan inloer.
Die skool het vanjaar in veral drama, sang en baldans uitgeblink. Die kultuuraand was ’n samekoms van al hierdie aspekte met die klem veral op drama.
“Die aand is ’n weerspieëling van al die harde werk wat die onderwysers en leerders ingesit het om sukses te behaal,” sê Arnold Mei, Hexvallei Sekondêr se hoof.
“Die dramagroep was hierdie jaar uitstekend en hulle het die stories van ander hul eie gemaak.”
Hexvallei Sekondêr se dramagroep het by die Montagu-jeugkunstefees wat vanjaar 21 Augustus gehou is, uitgeblink.
Katelynne Matthews het twee dubbelgoudpryse by die Montagu-jeugkunstefees ontvang en op grond hiervan is sy as die skool se beste dramaleerder aangewys.
“Dit was vir my ’n groot voorreg om lid van die groep te wees en ek het tuis gevoel tussen my teatermaats. Ek het nog altyd ’n groot passie vir drama en dit was goed om die passie met my maats te deel. Ek wens ek kon die skild opbreek en vir elkeen ’n stukkie gee omdat hulle dit net so verdien soos ek,” sê Katelynne.
Dié skool het vanjaar groot ondersteuning van die Wes-Kaapse onderwysdepartement se MOD-program (massadeelname, geleentheid en toegang, ontwikkeling en groei) gekry wat hulpbronne gee om sport en kultuur in skole te ontwikkel.