Hoërskool Goudini is ’n gekombineerde Afrikaansmediumskool wat leerders akkommodeer van gr. 1 tot gr. 12. Daar is tans 408 leerders in die skool met 18 personeellede.
Die skool se visie is om ’n skool daar te stel waar elke leerder deur voortreflike, toekomsgerigte en opvoedende onderwys sy of haar potensiaal kan bereik.
Dit is ’n waardegedrewe skool waar dit belangrik is om waardes vas te lê en om leerders aan die hand daarvan tot volwassenheid te lei, sê die hoof, Bert Hanekom. “By Hoërskool Goudini word elke leerder in totaliteit aangespreek. Die verskeidenheid akademiese, kulturele en buitemuurse aktiwiteite dra daartoe by dat elke leerder die geleentheid kry om sy talente en vermoëns te kan ontwikkel.”
Die skool is geleë in die hartjie van die Breedekloof; ’n ongeslypte juweel van die Boland. Rawsonville as dorpie is werklik die hart van Goudini, plek van bitter heuning. Hierdie, meestal ongerepte skoonheid, is so deel van ons bestaan, ons het dit selfs deel gemaak van ons skoollied: “Natuur is hier so wonderskoon, die berge trots en hoog. Riviere helder soos kristal, ja alles bekoor die oog.”
Hier is elke leerder belangrik en die leerders se belange word altyd eerste gestel.
Ons skool wil graag ’n plek wees waar jonk en oud, klein en groot, pret kan hê.
By Hoërskool Goudini staan een ding vas: Hier gee ons om vir jou! Meer as net ’n skool!


