Die Hoërskool Montagu se leisels is in nuwe hande na Tertius Prins onlangs as nuwe hoof van dié skool aangewys is.
Dit kom nadat dr. Japie Spies, die skool se vorige hoof, verlede jaar ná 20 jaar afgetree het.
Prins het in 1991 aan die Paul Roos Gimnasium gematrikuleer, waarna hy sy B.Com Wiskunde-graad en Hoër Onderwysdiploma aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het.
Sy eerste pos was by Hugenote Hoërskool in Wellington, waar hy wiskunde en rekeningkunde tot matriek aangebied het.
In 2002 aanvaar hy die pos as departementshoof in die handelsafdeling by Hoërskool Montagu en nou, 15 jaar later, is hy aangestel as skoolhoof.
Prins was in hierdie tyd ook deel van die skool se bestuurspan, graadhoof van verskillende grade en betrokke op alle gebiede. Hy dien al vir 15 jaar op die beheerliggaam en is verantwoordelik om die skool se finansies gesond te hou.
Hy is ook vir die tweede maal die superintendent van Huis van Velden, die plaaslike koshuis waar hoër- en laerskoolleerders tuisgaan. Hy is ook al 15 jaar deel van die Montagu-gemeenskap, van wie hy groot steun vir sy aanstelling geniet.